‘Vorentoe deur harde werk’

5 Klaarstroom vroue

Deur Marlene Malan
“Vrouemaand is ’n viering van vrouwees. Vroue is spesiaal, want hulle het unieke eienskappe.” So het Corley Mentoor, maatskaplike werker van Badisa op Prins Albert, verlede Vrydag gesê op ’n ge­leent­heid in die Klaarstroom-gemeenskapsaal ter viering van Vrouemaand. Die byeenkoms is gereël deur Linda Jaquet, onder-burgemeester van Prins Albert.

“Geen vrou moet minderwaardig voel nie. Jy het regte. Maar regte bring ook ver­antwoordelikhede,” volgens Mentoor. ’n Deel van daardie verantwoordelikhede is om die samele­wing veilig te hou, “wat beteken dat jy misdaad en geweld moet aanmeld – al word dit deur jou eie man gepleeg. Jy moet gebruik maak van al die hulpbronne tot jou beskikking. Dis jou reg, en ’n voorbeeld vir jou kinders, want jy is hul primêre versorger.”

Volgens Barbara Gorniak, voorsitter van die Prins Albert-hospitaalraad, is vroue die ruggraat van ’n gemeenskap. Maar om ’n samelewing sterk en gesond te hou, moet vroue eerstens na hulself kyk. “Dit beteken nie net dat hulle na hul fisieke gesondheid moet omsien nie, maar ook na hul geestesgesondheid. Eet ge­sond, leef gesond.”

Een van die grootste euwels in die gemeenskap is alkoholmisbruik, het Ja­koba Visagie van die organisasie Stigting vir Alkoholverwante Navorsing (FARR), gesê. “Veral swanger vroue moet ophou drink. Géén alkohol is dan aanvaarbaar nie. Nie eens ’n klein bietjie nie. As jý drink, drink jou baba saam. Niemand kan ’n baba met fetale alkoholsindroom (FAS) help nie. ’n Vrou is verantwoordelik vir die mens wat sy voortbring, en ’n mens met FAS kan nie tussen reg en verkeerd onderskei nie. Die ma van ’n FAS-kind moet dus ook die verantwoordelikheid dra vir die misdaad wat hy later pleeg.”

Gay van Hasselt, een van Prins Albert se suksesvolste entrepreneurs, se boodskap was dat dié vroue wat werklik suksesvol is, dié is wat sê: “Ek het waarde! Ek glo in myself!” Dis wat haar ma haar geleer het, het Van Hasselt vertel. “As dit nie vir my ma was nie, het ek nie opge­staan in swaar tye nie. Armoede is nie ’n skande nie. Om vuil te wees, is wel.”

Sy en haar oorlede man, Clive, het se­dert die begin van hul huwelik hard ge­werk, soggens vyfuur opgestaan en vyf ure later al ’n dag se werk verrig. “Ek het vyftien jaar lank soggens vroeg, met die hulp van een werker, koeie gemelk en voor sewe soggens tweehonderd liter af­ge­lewer. Daarna het ek ’n winkel bedryf. Al hoe jy vorentoe gaan, is deur harde werk.”

Maar daar is ook voorwaardes, volgens haar. “Jy moet onthou jy is nie ’n slaaf in jou eie huis nie. Leer jou kinders om saam met jou werk. Want so leer hulle respek vir jou.”

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2017. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?