Van bendelid tot advokaat

Adv Shawn Ferreira word hier deur adv Stephen Lourens geluk gewens. Foto: Garnett Wicomb

Adv Shawn Ferreira word hier deur adv Stephen Lourens geluk gewens. Foto: Garnett Wicomb

Deur Garnett Wicomb
HY was ’n lid van die Americans, aan drank verslaaf en in en uit in die hof en tronk todat hy besluit het tot hiertoe en nie verder nie.

Dit is die verhaal van Shawn Ferreira (38) van Dysselsdorp wat verlede Vrydag in die Hooggeregshof in George as advokaat tot die balie toegelaat is.

Volgens Ferreira het hy in 1998 sy regstudie aan die destydse Universiteit van Port Elizabeth ge­staak, huis toe gekom en by bendebedrywighede betrokke geraak.

“Ek was ’n rebel wat my eie kop gevolg het. Ek was soet in die huis, maar stout buite en is voortdurend deur die polisie gewaarsku.

“Ek was vir dertien sake in die hof en verhoorafwagtend in die tronk, maar met die Vader se genade is ek op alle sake onskuldig bevind. Ek was in die hof vir geweld, poging tot moord, maar nooit vir diefstal of verkragtings nie.

“Drank was my grootste swakpunt, maar gelukkig het ek nooit met dwelms en tik te doene gehad nie.”
Sy dogter het hom op ’n Sondag in die tronk besoek en daardie dag het hy besluit: “Ek kom nie weer na dié plek toe nie.”

Hy het in 2004 besluit om pad te gee uit Dysselsdorp en het by ’n tante in Kathu in die Noord-Kaap gaan woon.

Daar was hy vir ’n tyd lank ’n polisiereservis voordat hy na Kaapstad verhuis en sekuriteitswerk gedoen het.

’n Onbekende man het op ’n dag aan hom gevra of hy vir altyd so wil sit.

“Dit het my geskok en ek het daaroor gedink.”

Dié man het hom gehelp om by Unisa te re­gistreer om sy regstudie voort te sit.

Hy het sy eerste drie modules in 2006 voltooi terwyl hy steeds as sekuriteitsbeampte gewerk het.
“Ek het my bonusgeld net so vir my studie gebruik en in 2015 my LLB-graad verwerf.”

Ferreira vertel dat hy in 2011 in die huwelik getree het. Drie dogters is uit die huwelik gebore is.
“Die huwelik het egter nie uitgewerk nie.””

Gedurende 2016 het hy weer sekuriteitswerk gedoen en werk by prokureursfirmas gesoek totdat hy in Junie vanjaar aansoek gedoen het om as advokaat tot die balie toegelaat te word.

Ferreira vertel dat hy ook groot dank verskulidg is aan ’n plaaslike staatsaanklaer, Corné Pretorius, wat bewus was van sy regstudie en hom altyd in die hof aangemoedig het om daarmee voort te gaan.

“En vandag is ek nie spyt nie,” sê hy.

Ferreira sê sy boodskap aan vandag se jongmense is om by jeugorganisasies betrokke te raak, aan te hou studeer en nooit moed op te gee nie.

“Vriende kan jou inspireer of vernietig. Kies hulle wyslik.”

Ferreira is die seun van John en Johanna Morris van Dysselsdorp en het nog ’n broer. Sy pa is in 2010 oorlede. Hy het sy laerskoolopleiding aan St Konrad Primêr ontvang en in 1997 aan die Dysselsdorp Sekondêre Skool gematrikuleer.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2017. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?