Tyd om minder sout te eet

Voor van links is Sofia Boezak (inwoner), Ellen Serfontein (inwoner), Anna Campher (inwoner), Michael Wagenaar (inwoner) en Thomas Plaatjies (inwoner). Agter van links is Claudel Draai (Departement Gesondheid Eden Distrik), Elana Meiring (dieetkundige), David Ruiters (ondervoorsitter Coronation Memorial), Florina Booysen, Melanie Esterhuizen, Najma Witbooi en Ashonice Daniels (verpleegsters), ds Steven Oliphant en Eshida May (gesondheidsbemarker, Bridgton Kliniek). Heel voor sit Mietie Jafta (inwoner).            				         Foto: Ilze-Mari Gründling

Voor van links is Sofia Boezak (inwoner), Ellen Serfontein (inwoner), Anna Campher (inwoner), Michael Wagenaar (inwoner) en Thomas Plaatjies (inwoner). Agter van links is Claudel Draai (Departement Gesondheid Eden Distrik), Elana Meiring (dieetkundige), David Ruiters (ondervoorsitter Coronation Memorial), Florina Booysen, Melanie Esterhuizen, Najma Witbooi en Ashonice Daniels (verpleegsters), ds Steven Oliphant en Eshida May (gesondheidsbemarker, Bridgton Kliniek). Heel voor sit Mietie Jafta (inwoner).  Foto: Ilze-Mari Gründling

Deur Ilze-Mari Gründling
DIE Wes-Kaapse Departement van Gesondheid het vroeër die maand saam met Age in Action (die Suid-Afrikaanse Raad vir Bejaardes), die Oudts­hoorn Polisie, Departement Maatskaplike Dienste en die Bridgton Kliniek die Coronation Memorial Ouetehuis op Oudtshoorn besoek as deel van ’n soutbewusmakingsveldtog.

’n Dieetkundige van die departement, Elana Marais, het die belangrikheid van ’n gesonde leefstyl en die gevare van sout aan die inwoners verduidelik. Volgens Marais het sout ’n groot impak op ons gesondheid.

“Te veel sout kan onder andere hoë bloeddruk, hartaanvalle en nierversaking veroorsaak,” sê sy.

“Dit is belangrik om ons daaglikse soutinname te verminder. Mense kan hulself leer om gewoond te raak aan kos wat met min sout voorberei is. En dit is nie te laat om ons leefstyle te verander nie. Begin so gou as moontlik – begin vandag.”

Marais sê dat ’n bejaarde se bloeddruk normaal is as dit tussen 120 oor 80 is, terwyl 140 oor 90 ook toelaatbaar is. Dit moet egter gereeld getoets word.

Verder sê Marais dat dit ’n groot probleem is dat mense nie weet wat hul tellings is nie.

“Wanneer jy by ’n dokter of suster by die kliniek is, vra wat is jou bloeddruk en suikertellings. ’n Diabeet se suikertelling is veronderstel om tussen 4 en 8 te wees. Iemand wat nie ’n diabeet is nie, se suikertelling moet tussen 3 en 6 wees. Cholesterol moet altyd onder 5 wees. As die suster vir jou sê dat jou bloeddruk mooi lyk, moenie dit so aanvaar nie. Jy moet weet wat die tellings is sodat jy die regte keuses kan maak. Probeer om jou lewens­kwaliteit te verbeter.”

Die Wes-Kaapse Departement  van Gesondheid se wenke:

• Gebruik kookmetodes wat min of geen vet byvoeg nie – soos braai, rooster, bak, roerbraai, stoom en posjeer.
• Sny vet van vleis af voordat dit gaargemaak word.
• Eet meer vrugte, groente en tuisgemaakte etes wat van vars produkte gemaak is.
• Proe die kos voor jy meer sout byvoeg. Gebruik alternatiewe vir sout soos suurlemoensap, knoffel, rissies, uie, gemmer of kruie.
• Eet minder kos met bygevoegde suiker. Gebruik geleidelik minder suiker in tee of koffie en wanneer jy kook of bak. Moet ook nie suiker by groente voeg nie. Moet nooit suiker by ’n baba se kos of drankie byvoeg nie. Peusel aan vrugte, groente of neute in plaas van beskuitjies of koekies.
• Drink meer water. Geur water deur natuurlike bestanddele soos snye appel, suurlemoen, lemoen of kom­kommer by te voeg. Vermy versoete koeldrank – ook bruisdrankies, gegeurde water, energiedrankies en versoete sap.
• Balanseer die hoeveelheid kos wat jy eet (energie in) met fisieke aktiwiteit (energie uit).

Log in with your credentials

Forgot your details?