Skryf vir jouself ’n mooi storie

- Deur Tania Smit

– Deur Tania Smit

Deur Tania Smit
Ek verdedig nie mense wat ­buite-eg­te­like verhoudings het nie. Ook nie mense wat hulle pasmaats afkraak en met vuiste of woorde slaan nie.

Ek praat nie goed van mense wat ­wegloop of ophou probeer nie. Ook nie mense wat antwoorde aan die onderkant van ’n bottel soek nie. Life is tough, almal doen hulle beste, en wat agter jou voordeur aangaan, is jou eie saak.

Maar as jy jou mond op sosiale media begin uitspoel oor jou eks, of verwag dat ek by die damestee op ’n Saterdag­oggend saam met nege ander vreemde vrouens moet luister hoe sleg hy is, dan maak jy jou besigheid myne. En daar­oor het ek wel iets te sê.

Ja, hy het jou verneuk of gelos en jou hart gebreek, en jou lyf is moeg en jou hart is seer. Maar om berge vol onderhoud te eis, sy naam sleg te maak in die dorp, elke tweede jaar ’n nuwe sportmotor te eis, te sorg dat hy nie die kin­ders sien nie, en aan te dring op die duur­ste medisyne omdat hy die medies betaal, is net naar. En ek weet jy dink jy’s cool, en slim, en dat hy dit verdien, maar jy, Mevrou, moet jou kop laat lees. Want maak nie saak wat hy gedoen het nie, hy verdien dit nie. Jy verseker ook nie, en minste van almal jou kinders.

Dis een ding om seer en rou en kwaad te wees, natuurlik is dit OK. Maar om so lelik kwaad-naar in die open­baar te wees, is sleg. Regtig sleg.

Oor twintig jaar gaan hy langs die see stap met sy nuwe vrou en happy wees (of nie), dan sit jy steeds op ’n hoop met jou grênd kar, duur medisyne, en al jou kwaadwordplooie. En dit gaan jou nie gelukkig maak nie, ek belowe jou. Gaan haal eerder jou kwaad daar buite, sit dit terug in jou lyf, en loop gee dit vir iemand wat dit vir jou op ’n gesonde plek kan bêre, en let go.

Of gaan gooi daai woede af op ’n berg, dans dit uit, of vat jou kar en gaan ry ’n nuwe pad. Sit vir jou harde musiek op. Laat kleur jou hare, sit dreadlocks in, verf jou mure, hou ’n braai. Huil by jou vriendinne en mense wat vir jou lief is. Slaan jou kussing. Do whatever it takes, maar neem verantwoordelikheid vir jou woede, en jou hartseer, en jou teleurstelling en deel jy daarmee dat dit uit jou sisteem uit kan kom. Dis nie sy probleem nie, dis joune. Want as jy nie daarmee deel nie, gaan dit jou vernietig, nie hom nie. Ek weet.

Sorg dat jy iewers gaan sit en dink oor hoe jy bygedra het tot die verval van julle probeer. Want mens dra altyd by. Deur te veel te gee, te min te gee, toe te laat, nie toe te laat nie, te wil, nie te wil nie. Whatever. Dan vergewe jy jouself, want jy het sekerlik jou beste probeer.

En vergewe hom ook. Jy sal hom iewers moet vergewe. Want hy is jou kinders se pa – en julle generasie se boek is groter as hierdie hoofstuk.

En vra jou kinders wanneer laas het hulle met hulle pa gepraat. En help hul­le om te leer van vergifnis, en te­leur­stelling, en seerkry, en hoe almal foute het (ook jy).

Want hulle gaan eendag ’n pa nodig hê. En jou kleinkinders gaan eendag ’n oupa nodig hê.
Ware verlossing na egskeiding kom nie in die wegstap nie, dit kom in die losmaak.

En jy, Mevrou, verdien soveel beter as om op ’n teepartytjie oor jou slegte verlede met vreemdelinge te praat. Ek gun vir jou ’n mooi storie. Lig jou ken, neem terug jou waardigheid, en skryf vir jouself ’n mooi storie. ’n Awesome een. Want jy kan.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2017. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?