SA ambassadeur van Pous Sondag op Oudtshoorn

Die ambassadeur van Pous Franciskus in Suid-Afrika, aartsbiskop Peter Wells, sal Sondag op Oudtshoorn wees.   Foto verskaf

Die ambassadeur van Pous Franciskus in Suid-Afrika, aartsbiskop Peter Wells, sal Sondag op Oudtshoorn wees. Foto: verskaf

Deur Vader Enrico Parry
DIE ambassadeur van Pous Franciskus in Suid-Afrika, aartsbiskop Peter Wells, sal Sondag die Corpus Christi-prosessie in Oudtshoorn se strate lei.

Die jaarlikse prosessie, wat om die beurt in Oudtshoorn en Dysselsdorp plaasvind, bied Katolieke die geleentheid om hul geloof in die Eucharistie in die openbaar te verkondig. Die prosessie is deel van die nalatenskap van die Duitse sendelinge wat Oudtshoorn in 1922 hul hoofsetel gemaak het.

Aartsbiskop Wells, oorspronklik uit Tulsa, Oklahoma in die Verenigde State, is op besoek aan die biskop van Oudtshoorn, Francisco de Gouveia. Voor sy aanstelling verlede jaar as nuncio, soos sy amp in kerkkringe bekend staan, het Wells ’n senior pos beklee in die staatsekretariaat van die Vatikaan.

Sy kort besoek aan die Bisdom Oudtshoorn, ’n kerkstreek wat die Tuinroete, Klein Karoo, dele van die Groot Karoo sowel as Swellendam, Worcester en Ceres insluit, val saam met die 50ste herdenking van die inwyding van die nuwe St Saviour-katedraal. Aartsbiskop Wells sal kerke en kloosters in die verskillende dele van die bisdom besoek.

Die Corpus Christi-diens begin om 10:00 in die katedraal en Katolieke van Beaufort-Wes, Langkloof, Dysselsdorp en Oudtshoorn sal in al drie streektale daaraan deelneem. Daarna beweeg die prosessie suid in Baron van Reedestraat, wes in Kerkstraat, noord in Hoogstraat en dan weer wes in St Saviourstraat.

Biskop de Gouveia sê dit is die eerste keer dat die nuncio aan die prosessie hier sal deelneem, en daarom moet hy iets unieks van Oudtshoorn saamvat met sy terugkeer na Pretoria. Hy nooi almal na die diens en sê hy weet die mense van Oudtshoorn sal die nuncio met warm harte ontvang.
• Vader Enrico Parry is die kanselier van die Bisdom Oudtshoorn.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2017. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?