Pret vir die lang, grys pad

Deur Angelique Erasmus
DIE somervakansie is byna met ons. Vir die meeste mense beteken dit son, see, saamwees en lekker eet. Of andersins familiekuiers, dikwels in ’n ander deel van die land.

Maar voor die blou seewater of die familie vir die gesin wink, is daar ’n lang grys hindernis tussen jou en ontspanning.

Die lang pad gaan gewoonlik gepaard met ontelbare toiletstoppe, kinders wat baklei, ma wat ’n rugspier verrek om die vrede te bewaar en ’n al-ewige geëet (want kinders is mos altyd honger).

Hier is ’n paar wenke om die tyd vinniger en lekkerder verby te kry.

1. Draagbare DVD-spelers.

2. ’n Tablet met speletjies op. Moenie die oorfone vergeet nie!

3. Kar-krieket (vir ouer kinders). Die speletjie behels die toeken van’n punt vir elke kar wat verby kom, maar die speler uitboul as ’n sekere kleur verbykom. Dan is dit die volgende speler se beurt.

4. Sinne maak met die letters van nommerplate – hierdie speletjie werk ongelukkig net lekker in die Oos-Kaap, Mpumpalanga en Gauteng.

5. Ek sien met my kleine ogie – hierdie is seker die maklikste speletjie wat al deur byna almal gespeel is. Maak dinge ’n bietjie deurmekaar en speel: “Ek sien nie met my kleine ogie nie”!

6. Kinders wat nie karsiek raak nie, kan lees.

7. Inkleur in die kar. Die persoon wat die minste oor die lyntjies gaan, wen ’n prys. Eenvoudige prente werk die beste.

Maak vir elke kind sy of haar eie sakkie met goedjies soos eetgoed, koeldrank, kryte, boekies, speelgoed ens. Dit werk uitstekend as daar meer as een kind is wat moet besig bly. Niemand kan dan baklei oor enige iets nie, én dit hou die kar taamlik netjies.

Onthou die sonroom, en onthou as niks anders werk nie, is daar darem omkoop en dreigemente…

Log in with your credentials

Forgot your details?