Om mekaar ná 51 jaar te vind

Elmarie Jacobs van Oudtshoorn en haar biologiese ma, Doreen du Plessis, wat mekaar 51 jaar na Elmarie se geboorte gevind het.

Elmarie Jacobs van Oudtshoorn en haar biologiese ma, Doreen du Plessis, wat mekaar 51 jaar na Elmarie se geboorte gevind het.

Deur Liesel le Roux
HULLE sit langer as twee ure styf teen mekaar op ’n bank terwyl hulle vertel hoe hulle mekaar na 51 jaar gevind het, hulle hande inmekaar gevou. En die glans in hul oë vertel dat hulle nou nog nie kan glo hulle het mekaar uiteindelik opgespoor nie.

Hulle is Elmarie Jacobs (51), be­kende eiendomsagent van Oudts­hoorn, en haar biologiese ma, Doreen du Plessis (74), ’n weduwee van Rayton, wat mekaar die eerste keer in hul lewens op 28 Augustus vanjaar gesien het, op Doreen se 74ste verjaardag.

Elmarie en Doreen se verhaal was gisteraand die onderwerp van die laaste episode van die TV-reeks Waar begin ek soek? wat op DSTV Kanaal 147 (Via) uitgesaai is. Die episode word weer môre (Vrydag) om 15:00 en Sondag om 22:00 uitgesaai.

Dit is die verhaal van haar en haar biologiese ma se ontmoeting en die ontdekking dat sy ook ’n suster het, Elbie Bodenstein.

Elmarie is in 1966 met haar geboorte deur Fred en Corrie Coetzee van Oudtshoorn aangeneem, en sy woon vandag nog in die huis in Buitekantstraat waarin sy grootgeword het. Haar pa is in 2006 oorlede en haar ma in 2011.

“Ek het wonderlike ouers gehad,” sê sy. “Dit het my ook nooit gepla dat ek aangeneem was nie, maar in ’n stadium – min of meer rondom my dertigste verjaardag – het ek die behoefte begin ervaar om te weet ‘wie ek is’”

Elmarie sê sy het as gevolg hiervan begin skryf en baie boeke oor die jare vol geskryf. Dit was egter eers toe sy in Desember verlede jaar van die Fami­ly Constellations-te­rapie gehoor en daarby betrokke geraak het, dat haar reis begin het om haar biologie­se ma te vind.

Dié terapie, glo Elmarie, het haar gereed gemaak om met dié soektog te begin. Sy het ’n brief aan die Christelike Maatskaplike Raad (CMR) in Pretoria gestuur waarin sy raad gevra het oor hoe om te werk te gaan. Kort daarna het ’n maatskaplike werker, Marthie Booyse, laat weet sy sal haar kan help.

Elmarie sê sy het besef sy is nog nie gereed nie. In Julie het sy weer begin soek en by Buitelandse Sake haar ma se naam vasgestel.

Sy het weer met Marthie Booyse kontak gemaak.

“Op 22 Augustus het ek ’n e-pos van haar teruggekry wat lees: Inlig­ting oor jou biologiese ma. Ek het goeie nuus vir jou. Ek kan kontak maak met jou bio­logiese ma.”

Booyse het haar vertel dat haarbiologiese suster, Elbie, op haar beurt ook op soek was na haar. Volgens Booyse het Elbie haar ook in Julie gekontak. So ’n wedersydse soektog deur familielede na mekaar op dieselfde tydstip, het sy nog net drie keer in haar loopbaan beleef, het Booyse vertel.

Die res het daarna baie vinnig gebeur. Elmarie en Elbie het per e-pos begin korrespondeer. “Op 24 Augustus het ek ’n brief van Elbie gekry en die eerste keer ’n foto gesien van my ma se gesig.”

In daardie stadium moet Elbie vir ’n heupoperasie hospitaal toe gaan en neem haar man, Douw, dit op hom om vir Doreen te sê hulle het haar oudste dogter opgespoor.

Hy laat weet Elmarie sy kan haar ma die volgende dag bel. Dit was 25 Augustus.

“My ma se eerste woorde was: ‘Ek is so jammer. Is jy kwaad vir my?’

“Sy kon nie glo dat ek nie kwaad was vir haar nie.”

Elmarie het besluit om haar ma te gaan besoek. Op 28 Augustus, drie dae nadat hulle die eerste keer met mekaar oor die telefoon gepraat het, het hulle mekaar op die OR Tambo Lughawe die eerste keer gesien.
“Dit was ’n anderster gevoel toe ek in haar oë kyk,” sê Elmarie. “Dit het gevoel of ek in my eie oë kyk.
“Alles aan haar was bekend. Niks was vreemd nie. Elke sel in my liggaam het gesê: Ons is tuis.”

En Doreen, wat as jong meisie nie eens toegelaat is om na die baba te kyk waaraan sy die lewe geskenk het nie?

“Dit was vir my ’n verligting. Sy is gesond. Ek was so bang sy is dalk siek. “Ek het oor die jare so baie gebid vir haar. Ek het gewonder: Is sy ge­lukkig getroud? Het sy kinders?”

Sy het al die jare met ’n groot skuldgevoel geloop, sê Doreen.

“Met haar geboorte het hulle haar agter ’n laken gehou. Hulle het my nie toegelaat om haar te sien nie.

Ek wou die laken afgeruk het. Dit was verskriklik. Ek was 22. Ek het niks van haar geweet nie…”

Maar nou is daardie trane en seer verby. “Ek sê elke aand dankie,” sê Doreen.

“Ek is vervuld,” sê Elmarie.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2017. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?