’n Tuin eie aan die Karoo

Kleure en skoonheid uit Marlene Malan van Prins Albert se vetplanttuin. Van haar wenke is om steggies in ou koffiebekers te plant omdat vetplante min grond nodig het en dit ook ’n mooi tafelversiering is (tweede van regs bo). En die woestynrosie (regs bo) groei sommer uit ’n plastiekemmer - dit maak ’n lang steel en laat die rosies dan oor die rand hang.                                                  Foto’s: Marlene Malan

Kleure en skoonheid uit Marlene Malan van Prins Albert se vetplanttuin. 

Deur Marlene Malan
DIE dryfkrag agter ons vetplanttuin in Prins Albert was dié eiendom se vorige eienaars, die skrywer Eben Venter en sy lewensmaat, Gerard Dunlop, ’n tuinontwerper. Toe hulle die eiendom in 2004 gekoop het, was dit ’n stuk grond vol ysterskroot, vertel hulle. Nadat hulle die gemors verwyder het, was al wat oor was kaal grond en ’n paar bome.

Die plantegroei van die Karoo het hulle gefassineer, en daar was vir hulle geen ander keuse nie as om dit wat eie is aan die omgewing te plant. Die groen grasperke en roosbeddings in baie tuine in die dorp het hulle gehinder, omdat dit net met die grootste wilskrag – en baie water – aan die lewe gehou kan word. Die antwoord was meerjarige plante, met die beginsels van ’n kothuistuin op verskeie dele van die eiendom – dus, groepe plante in verskillende beddings, dig teen mekaar geplant, met temas van kleur, vorm en grootte. En rivier­klippe om beddings af te rond en paadjies te vorm.

Dis een van die redes waarom ons die eiendom gekoop het. Dit was vol plante wat die omgewing weerspieël, en dit was vir ons belangriker as selfs die huis. Ons het juis dié dorp in die Groot Karoo gekies om méér na buite te lewe, ná die ingehokt-heid (en beton) van die stad.

Vyf jaar later, en ek begin nou my vetplante werklik verstaan: Ek het geleer waar om wat te plant op dié dele van die erf wat nog onontwikkel was; ek het geleer dat vetplante nie net moet oorleef nie, maar dat dit baie groter plesier gee as hulle ook reg versorg word; dat nie alle vetplante ewe veel sonlig, skaduwee, water en grond nodig het om mooi en gesond te lyk nie; en dat ’n vetplanttuin soos ’n immer veranderende kunswerk lyk. ’n Vetplanttuin is ’n tuin vol wonders, wat – met min aandag – nooit ophou verras nie.

Maar ons vetplanttuin het ook vir ons ’n paar lesse geleer. Dis dat die Karoo, veral in hierdie tyd van ernstige droogte, nie ’n omgewing is vir sissies nie. Jy aanvaar die omgewing soos hy is – sy koue, sy hitte, sy son, sy skaduwee, sy droogte en sy storms. En jy is dankbaar vir reën as dit val.

Dis dan, wanneer jy die water op die droë grond ruik en voel, dat jy weet jy oorleef nie net nie, maar lééf. En dat min dinge jou gaan onderkry.

Voordele van vetplante:
• Het min water nodig; • Het min onderhoud nodig; • Het min grond nodig; • Groei maklik van steggies of blare wat jy in die grond druk; • Laat omtrent geen onkruid toe tussen hulle nie (omdat vetplante ’n vlak wortelstelsel het en al die voedingstowwe vir hulself vat); • Bied kleur en vorm soos min – veral in die koue wintermaande; • Groei uitstekend in potte en bakke (ook goedkoop plastiekhouers, en ingemaakte kos- blikkies wat jy kan verf). Maak net ’n gaatjie of twee onderin.
Planttyd: Herfs, lente. Plante wat maklik groei: Aalwyne, woestynrosies, plakkies en beestebul.

6 Vetplante6 6 Vetplante3 6 Vetplante8 Woestynrosie met os

6 Vetplante7 6 Vetpante5

Van haar wenke is om steggies in ou koffiebekers te plant omdat vetplante min grond nodig het en dit ook ’n mooi tafelversiering is (foto links onder). En die woestynrosie (heel regs bo) groei sommer uit ’n plastiekemmer – dit maak ’n lang steel en laat die rosies dan oor die rand hang.   Foto’s: Marlene Malan

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2018. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?