’n 2de kans op liefde

Wilmie en Anna van der Vyver van Oudtshoorn het ná baie jare ’n tweede kans op liefde gekry.  Foto: Ilze-Mari Gründling

Wilmie en Anna van der Vyver van Oudtshoorn het ná baie jare ’n tweede kans op liefde gekry. Foto: Ilze-Mari Gründling

Deur Ilze-Mari Gründling
OM ’n tweede kans op liefde te kry is nie iets wat aldag gebeur nie, maar vir Anna en Wilmie van der Vyver van die Caves Aftreeoord is dit presies hoe hul lewens verloop het.

Dié paartjie is getroud toe hulle onderskeidelik 62 en 64 jaar oud was – en hier is hulle steeds – 19 jaar later!

Anna (81) vertel dat sy vir Wilmie (83) jare gelede deur sy vrou ontmoet het. Die twee het gereeld saam na hul kinders se sportwedstryde gaan kyk.

“In daardie stadium was ons almal net goeie vriende,” sê sy.

Intussen het albei hul geliefdes verloor en eendag het Anna uit die bloute ’n oproep gekry.

“So ’n paar jaar nadat my man oorlede is, het Wilmie my gebel om my geluk te wens met my verjaardag.

“Dit was vreemd dat hy my na soveel jare gebel het, maar hy het verduidelik dat sy vrou ’n boekie met nommers en verjaarsdae in gehad het. Ons het ’n bietjie gesels. Hy was op pad om vir sy kinders te gaan kuier en ons het besluit om te gaan uiteet sodra hy terug was sodat ons kon opvang,” sê sy.

Toe die twee uiteindelik een middag by Spur gaan uiteet het, het Wilmie gevra: “Dink jy nie ons kan maar trou nie?”

“Dit is toe dat ons besluit het om ons skapies in een hok te jaag!” sê Anna.
Hulle is op 16 Julie 1999 getroud en vertel dat hulle nie een dag spyt is daaroor nie. Hulle het vier jaar gelede ’n huis by die aftreeoord gekoop.

“Ons het ons lewens voor ons gehad en die besluit geneem. Ons is so gelukkig dat ons ’n tweede kans gekry het. Ons help en verstaan mekaar. Soms gaan dit so ’n bietjie moeilik met Wilmie se geheue en gehoorprobleem, maar ons moet net geduldig met mekaar wees.”

Anna vertel dat hulle alles saam doen.

“Hy was die skottelgoed en help gereeld uit in die huis. Ons stap gereeld hand aan hand – nie een voor of een agter nie – langs mekaar. Dit is belangrik,” voeg sy by.

“Dit is nooit te laat vir liefde nie,” sê sy.

Wat is liefde?

Die Van der Vyvers vertel dat daar ’n paar dinge is om te onthou wanneer dit by liefde kom:

• Liefde is verdraagsaamheid.
• Daar moet vertroue wees – help mekaar.
• Respekteer mekaar en lewe van dag tot dag.
• Gryp elke nuwe dag aan en vertrou en glo in mekaar.
• Doen dinge saam.
• Wees eerlik en opreg met mekaar.

“Onthou, die Bybel is jou riglyn. Om saam te bid is baie belangrik,” sê Anna.

Log in with your credentials

Forgot your details?