So lyk 2017-program

margietens

By die bekendstelling was van links Margit Meyer-Rödenbeck (Dowwe Dolla), Karen Meiring en Jurg Human.

Foto: Marlene Malan

• 23ste KKNK se bekendstelling

So lyk 2017-program

Die program vir 2017 se KKNK is Sondag by die Rhebokskloof Wynlandgoed in die Paarl bekend gestel. Die fees word van  8 April tot 15 April die 23ste keer op Oudtshoorn aangebied. Die datums val binne die nasionale skoolvakansie en die fees eindig oor die Paasnaweek.

“Ons vereer vanjaar vir Pieter-Dirk Uys met die Kunste Onbeperk Kruispunt-prys vir sy enorme bydrae as skrywer, satirikus, sosiale aktivis en humanis en ons is opgewonde om die jong teatermaker, Jason Jacobs wat as skrywer, regisseur en akteur ’n dinamiese en belangrike nuwe stem tot die Suid-Afrikaanse teaterbedryf voeg, met die Kunste Onbeperk Nuwe Stem-prys te vereer”, het Rhodé Snyman, uitvoerende hoof van die KKNK, bekend gemaak.

Verskeie nuwe en klassieke werke is op die toneelprogram te sien. Reza de Wet, wat in 2017 vyf jaar oorlede is, se kragtige toneelstuk Breathing In word vir die eerste keer in Afrikaans aangebied as Asem, onder regie van Marthinus Basson, met Antoinette Kellermann, Tinarie van Wyk Loots, Stian Bam en Edwin van der Walt.

Chris Barnard se klassieke stuk Pa maak vir my ’n vlieër Pa, onder regie van Albert Maritz en met Sandra Prinsloo, Waldemar Schultz en Wilhelm van der Walt is te sien, asook Henrik Ibsen se internasionale vertaalde, klassieke werk Die vrou uit die see, onder regie van Henry Mylne.

Die Hertzog-pryswenner vir Drama, Tertius Kapp, span kragte saam met sy Rooiland-vennoot Jaco Bouwer vir die debuut van Liewer, wat verhoudings tussen generasies in Suid-Afrika, seksuele spanning en kommunikasie ondersoek. Anna-Mart van der Merwe is onder meer hierin te sien.

’n Aantal solovertonings debuteer by die fees waaronder Éric-Emmanuel Schmidt se roerende Monsieur Ibrahim en die blomme van die Koran met Dawid Minnaar, onder regie van Philip Rademeyer. Mark Behr se roman, Die Reuk van Appels, onder regie van Lara Bye word deur Gideon Lombard lewe gegee. Sandra Prinsloo is te sien in ’n splinternuwe solostuk, Moedertaal, met teks en regie deur Nico Scheepers. Prinsloo is ook te sien in die treffer So ry miss Daisy, met John Kani en Jacques Bessenger.

Lara Foot se multi-bekroonde Karoo Moose, maak sy eerste verskyning in die Klein Karoo en vertel ’n hartverskeurende verhaal met Afrika-storievertelling. Ander dramahoogtepunte sluit in Dop, met kragtoere deur André Odendaal en Wilhelm van der Walt,  Hond met Frank Opperman en Beurtkrag met Ivan Botha en Donnalee Roberts.

Die baanbreker van Afrikaanse stand-up, Casper de Vries is terug en te sien in 3-in-1 saam met Schalk Bezuidenhout en Hannes Brummer. Bezuidenhout is ook in ’n solo-vertoning Voksbesit te sien.

Marthinus Basson bring een van Duitsland se mees opgevoerde kontemporêre skrywers, Roland Shimmelpfenning, se komedie Die koninkryk van die diere na die verhoog met ’n geselskap van verskillende generasies spelers in Dawid Minnaar, Stian Bam, Tinarie van Wyk Loots, Wessel Pretorius en Ludwig Binge.

Pierre van Pletzen is na jare terug op die verhoog in sy solokomedie, Voël in die hand.  en Esther von Waltsleben (van die Francois Toerien Show en Die Republiek van Zoid Afrika–faam) debuteer met haar solostuk, O my goeie volk. Marion Holm se 14de solokomedie, Ag, kom ek val sommer met die Holm in die huis, debuteer by die fees.

Frans Swart se My man se skelmpie se skelmpie se vrou is ’n skreeusnaakse klug  en Saartjie Botha se komedie Gebore uit die huwelik, met Elize Cawood en Wilson Dunster, maak sy debuut.

Ander komedies sluit die verhoogverwerking van P.G. du Plessis se Koöperasie-stories (Chris van Niekerk, Marion Holm, De Klerk Oelofse, Margit Meyer-Rödenbeck en Carel Nel), Ooms (Tobie Cronjé en Gerben Kamper), Net ’n Chilli-burger en Chips asseblief! (Deon Lotz en Waldemar Schultz) en Mike van Graan se treffer skerpskertsproduksie Pay back the Curry in.

David Kramer se hip-hop musiekblyspel Amper Famous, wat saam met die jong hip-hop kunstenaar V.I.T.O. ontwikkel, is ’n eerste vir Suid-Afrika en vertel die storie van ’n jong man van Okiep wat droom van nasionale sukses met sy Afrikaanse hip-hop.

Coenie de Villiers span kragte saam met Deon Meyer vir Karoo Suite met van De Villiers se nuwe musiek.

Karen Zoid en die Gereformeerde Blues Band trek ’n kontemporêre baadjie vir Johannes Kerkorrel en die Gereformeerde Blues Band se ikoniese protesalbum Eet Kreef aan en die musiekprogram tree in gesprek met ’n ander ikoniese musiekteaterstuk Piekniek by Dingaan wat deur die Feesteforum en NATi ontwikkel word as Piekniek by Mpande nee Dingaan.

Emo Adams, Bobby van Jaarsveld en Katlego Maboe gee ’n swing twist aan bekende Afrikaanse musiek in die splinternuwe Karoo Swing en Zolani Mahola (Freshlyground) kom rock en rol in ’n produksie wat die rol van vrouwees in die wêreld van rock & roll vereer.

Ander musiekdebute sluit in Amanda Strydom , Andriette Norman, Jak de Priester, Loki Rothman en Albert Frost, asook Steffie le Roux en Les Javan wat hul musiektalente saamspan.

Die KKNK se opelug musiekervarings keer vir die eerste keer sedert 2012 terug na die Rivierbuurt en bied meer waarde as ooit tevore: Stalletjies, smulkos, kindervermaak,  musiek by twee verhoë vanaf 12:00 én in 2017 ook aandvertonings op die Huisgenoot-verhoog. ’n Feeskaartjie kos R250 (vir agt dae se vermaak) en dagkaartjies R50. Golden circle-kaartjies is vir uitgesoekte aande beskikbaar vir diegene wat voor in die gehoor wil wees, maar bied nie toegang tot die Rivierbuurt nie.

Ná die sukses van Uitkampteater in 2016, is dié kortkunsprojek terug en verskeie opwindende stukke word om die uur aangebied in tentjies met oa twee Nederlandse stukke, Diep en Wentel, wat jou omgewing letterlik omkeer. Baron van Ree­destraat bied ’n feestelike program met internasionale straatteater uit onder meer België en Span­je en verskeie verrassings lê voor met geheime bekende kunstenaars wat in die straat ’n verskyning maak.

• Die program is beskikbaar by www.kknk.co. za. Kaartjieverkope vir Kliek Klublede het reeds Maandag geopen. Vir die publiek open dit op Dinsdag, 17 Januarie 2017, by Computicket, Shoprite / Checkers en House & Home.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2017. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?