Junita van Zyl van Oudtshoorn en die vroue-kampioen van SA Jaggeweerskiet.

Junita van Zyl van Oudtshoorn en die vroue-kampioen van SA Jaggeweerskiet.

Junita van Zyl van Oudtshoorn en die vroue-kampioen van SA Jaggeweerskiet.

DAAR is vir Junita van Zyl van Oudtshoorn niks opwindender nie as om so tussen die stof, sand en klippe met die reuk van geweerkruit in die lug haar passie, naamlik jaggeweerskiet, te beoefen nie.

Dit is egter nie net vir haar lekker nie. Sy is ook baie goed daarmee, so goed dat sy 2017 se vroue-kampioen van SA Jaggeweerskiet is.

Om dié titel te wen was sy nie net die beste vroueskut by die SA Jaggeweerskiet Ope nie, maar het sy ook by ses provinsiale ope jaggeweerkampioenskappe gepresteer.

Junita vertel die skietery het begin toe sy en haar man, Willie, een keer ’n jaar saam met vriende aan die Suid-Kaap Jagters- en Bewaringsvereniging (SJB) se jaarlikse Gong-Challenge Spanskiet begin deelneem het.

“Ek het elke jaar beter begin skiet en toe daai gogga eers byt, was daar geen keer meer aan my nie. Ek het in 2014 by die SJB aangesluit en aan al hul skiet­kompetisies begin deelneem. Willie moes net sorg dat die patrone gelaai is!” vertel sy.

Dit was nie lank voordat sy die vroue-afde­ling van die SJB-kompetisies begin wen het nie. “Ek het toe ook ontdek dat ek ’n taamlik mededingende kant aan my het,” voeg sy by.

Die eerste groot kompetisie waaraan sy deelgeneem het, was in 2016 toe sy lid was van die Suid-Kaapse vroue­span wat in Bloemfontein aan die Inter-Chasa Kampioenskap deelgeneem het waar hulle ’n derde plek behaal het.

Om op nasionale vlak te kan deelneem, het Junita by Eden Jaggeweerskiet aangesluit. “Hulle bied ook skietklinieke aan waarby ek baie gebaat het, veral om al die vreemde posisies onder die knie te kry. Ek het toe ook geleer dat natuurlike aanleg nie van ’n mens ’n skietkampioen sal maak nie. Jy moet ook baie gereeld oefen en hard werk.

“Ek het ook geleer jy is net so goed soos wat jy die dag op die baan is; soms gaan dit goed en alles werk mooi uit en ander kere nie.

“Windlees, afstand skat en om kalm te kan bly onder druk, is alles belangrik. Dan moet jy ook somme maak om te verseker dat jy jou skote tot op 350 meter kan plaas waar jy die meeste punte kan verdien,” vertel sy.

Die grootste kompetisies wat Junita al gewen het, is die SA Ope Jaggeweerskiet op 6 Mei verlede jaar. “Hoewel ek gevoel het ek is nog nie gereed vir so ’n groot kompetisie nie, het een van Eden Jaggeweer se lede my aangemoedig om aan die SA Ope te gaan deelneem. Ek wou eers nie, maar het eindelik ingestem.”

En toe teken sy sowaar op dié dag haar meeste punte nog, naamlik 700/900, aan om die vroue-afdeling te wen. “Dit was ’n keerpunt in my skietloopbaan wat ek altyd sal onthou. Ek het intussen my persoonlike beste na 775/900 opgeskuif en mik nou na 800/900.”

Junita is in 2017 vir die Eden Vrouespan gekies, iets wat sy as ’n groot eer beskou en waarop sy baie trots is. Sy sê deur jaggeweerskiet het sy talle hegte vriendskapsbande met baie mense van die onderskeie skietverenigings gesmee.

Sy vertel sy en haar gesin jag ook graag. Dit is iets wat hulle as gesin saam doen. Op dié manier vul hulle ook hul vrieskas met heilsame wildsvleis.

Junita het al 17 Suid-Afrikaanse en sewe Sweedse wildssoorte gejag waarvan die grootstes ’n buffel en elande was.

Haar gunstelingjagtogte is vlakvark en bosvark. “Ons verkies om te voet te jag met ons sakke vol lemoene of naartjies omdat ’n mens dan soveel meer van die natuur sien as van ’n voertuig af.”

Junita en Willie, wat onderskeidelik in Barkly-Oos en Ugie in die Oos-Kaap grootgeword het, werk albei op die Swartberg

Private Wildlife Estate noord van Oudtshoorn teen die suidelike hange van die Swartberge. Willie is ’n wildsplaasbestuurder waar hy ook optree as professionele jagter.

Junita sê haar man is ’n baie goeie skut, maar voeg met ’n glimlag by dat sy hom beslis nou in kompetisies sal ore aansit!

Die Van Zyls se kinders, Leras (16) en Ineke (8), jag albei sedert hul ses jaar oud is, en albei is knap skuts vir hul ouderdom.
Ineke het vanjaar aan haar eerste kompetisie deelgeneem en was heel oulik, vertel Junita.

Leras skiet baie goed en is reeds gekies vir die junior Edenspan. Hy gaan vanjaar ook aan die Top 20 Junior-kompetisie deelneem.

Volgens Junita skiet sy met ’n Howa 6mm SLR-geweer met ’n Vortex Viper HSLR-teleskoop.

Sy fokus nou op die Top 50, Top 20 Vroue en die 2018 SA Ope wat Vrydag en Saterdag, 11 en 12 Mei, op Volksrust, Mpumalanga, plaasvind.

Volgens Junita sal daarna moontlik ’n Protea Vrouespan gekies word om deel te neem aan die Wêreldkampioenskap in

Bloemfontein waar Suid-Afrika teen onder meer Australië, Namibië, Swe-de en Nieu-Seeland gaan meeding.

Dit is haar droom om Protea-kleure te ver­werf. “Daar lê dus harde oefening voor!”

Junita van Zyl met haar jaggeweer waarmee sy aan jaggeweerskiet deelneem.

Junita van Zyl met haar jaggeweer waarmee sy aan jaggeweerskiet deelneem.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2018. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?