‘Ek kies om hier te woon’

‘You are not a tree. Go where you feel the most alive.’

Jaco Vorster deur die lens van Colin Quinto.

Jaco Vorster deur die lens van Colin Quinto.

Ek is Oudtshoorn

Hierdie is die eerste in ’n reeks gesprekke met inwoners wat vertel waarom hulle gekies het om op Oudtshoorn woon en spruit uit Die Hoorn se betrokkenheid by die Ek is Oudtshoorn-werkgroep van die Oudtshoorn Besigheidskamer. Kontak Liesel le Roux  by 073 217 7089 of nuus@hoorn.co.za as jy jou storie wil deel of van iemand weet met wie ons kan gesels.

Deur Liesel le Roux
TOE hy in 1994 as student op Potchefstroom gehoor het sy ouers trek Oudts­hoorn toe, was hy geskok en sommer ook kwaad, vertel Jaco Vorster, sakeman van die dorp.

“Ek kon in daardie stadium van my lewe nie glo hulle trek van Ermelo na die ‘verlate’ Oudtshoorn nie. Maar vandag kies ek om hier te woon en te werk, en nie op enige ander plek in die wêreld nie.”

Jaco is die mede-eienaar van Camp Roadhouse en Oudtshoorn Wes-Handels-huis. Hy is baie betrokke in die gemeenskap. Hy is onder meer ’n bestuurslid van die Oudtshoorn Besigheidskamer en lei die Ek is Oudtshoorn-werkgroep. Dié werkgroep wil inwoners bewus maak van Oudtshoorn se sterk punte, en aanmoedig om positief betrokke te raak by hul dorp en saam Oudtshoorn vorentoe te neem.

Jaco vertel hy was net een keer op Oudtshoorn voordat sy ouers, Leon en Elize Vorster, Camp Roadhouse in 1994 gekoop het – toe hy in die tagtigerjare in standerd een was en hy en sy gesin Oudts­hoorn een vakansie besoek en “al die toe­rismegoed gedoen het”.

Die Vorsters het tydens sy grootwordjare in die Ermelo-omgewing gewoon waar sy pa ’n baie suksesvolle melkplaas gehad het. ’n Ramp het die gesin egter in die vroeë 1990’s getref toe ’n brand die plaas verwoes en hulle alles verloor het.

Sy ouers het besluit om die plaas te verkoop en ’n besigheid elders in Suid-Afrika te koop en so weer van voor af te begin. Dit het hulle op ’n reis deur groot dele van die land geneem.

Hulle kon egter nie ’n geskikte besig-heid kry nie en was op pad terug van George na Ermelo toe hulle deur Oudts­hoorn ry en ’n eiendomsagent hulle Camp Roadhouse gaan wys het.

“Hulle vertel dat hulle op die winkel se drumpel gestaan het en net geweet het dat hulle dit gaan koop. Dié winkel en Oudts­hoorn het vir hulle ’n nuwe begin gebied.”

Jaco, wat bedryfskommunikasie gestu­deer het en ’n suksesvolle loopbaan by Absa gehad het, sê hy het vakansies van­uit Johannesburg vir sy ouers kom kuier, maar nooit gedink hy gaan eendag hier kom woon nie.

In 2010 het hy egter op ’n punt in sy lewe gekom waar hy gevoel het dat hy ’n verandering moet maak.

“Dit was in daardie stadium dat ek die woorde gelees het: You are not a tree, go where you feel the most alive…

“Ek het daardie selfde dag my ma gebel en vir haar gesê ek gaan Oudtshoorn toe trek. Sy het net gesê: ‘Ek weet’.”

Dit sou egter nog drie jaar duur voordat Jaco die skuif sou maak.

En ja, ná die besluit om Oudtshoorn toe te verhuis, het hy soms tog getwyfel.

“Ek was een van ’n groep van 30 mense wat baie internasionale blootstel-ling by Absa gekry het. Ek het besef dat ek enige plek kan kies om te woon en te werk.

“Ek onthou die dag voordat ek Oudts­hoorn toe gekom het, was ek in New York en het ek die aand afgekyk op Times Square en vir myself gesê: Jy weet môre vlieg jy Oudtshoorn toe. Doen jy die regte ding?”

Jaco sê mense van Oudtshoorn moet besef dat dit ’n ewe groot besluit is of mens op ’n dorp gaan bly of daarvan weggaan.

“Ek wil Oudtshoorn se mense toestemming gee om te besef dat hulle elke dag kies om hier te woon. Niemand hoef vasgevang te voel hier nie. Jy het gekies. Jy is nie ’n slagoffer nie.

“Ek het gekies om hier te bly. Ek kies dit steeds elke dag. Want ek kan ook anders kies. Ons almal kan. Uit die nagenoeg 380000 plus dorpe en stede in die wêreld wat ek kon gekies het, was Oudts­hoorn my keuse.”

Hy sê hy bly omdat daar so baie is wat hy van die dorp waardeer.

“Die woord waardeer beteken tog om die waarde van iets of iemand te eer. En om die waarde van iets te eer, moet jy die waarde eerstens ken en dit raaksien.

“Oudtshoorn se waarde lê vir my in die mooi – ek eer die mooi.

“Dit lê in sy mense wat mens ’n inkommer noem, maar jou nog steeds ’n kans gee – ek eer die waarde van die mense hier.

“Dit lê in sy ritme en die hartklop wat ek so sterk kan voel.

“Dit lê in dit wat die oog kan sien, maar nog meer, dit wat die hart kan sien.

“Ek woon hier, want my ouers is hier. Ek woon hier, want dis huis. Ek eer my ouers.

“Ek woon hier, want ek wou my energie hierheen bring.

“Ek woon hier, want ek is Oudts­hoorn. Ek eer Oudtshoorn se waarde.

“Ek wil die mense van Oudtshoorn toestemming gee om die mooi weer raak te sien. Om Oudtshoorn weer te waardeer.

“Angel Chernoff het gesê:

If the grass looks greener on the other side
Stop staring.
Stop comparing.
Stop complaining.
Start watering the grass you’re standing on.”

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2018. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?