Clivias van hier af oor die wêreld

Giovanni Bouwer (20) van Oudtshoorn, Clivia-liefhebber en -kweker, wat besig is om van sy vir plante en tuinmaak ’n toekoms te bou.                                      Foto: Liesel le Roux

Giovanni Bouwer (20) van Oudtshoorn, Clivia-liefhebber en -kweker, wat besig is om van sy vir plante en tuinmaak ’n toekoms te bou.  Foto: Liesel le Roux

Clivias

Deur Liesel le Roux
HY was van kleins af lief vir tuinmaak en vir plante, vertel Giovanni Bouwer (20) van Oudts­hoorn.
Dié oud-leerder van Langenhoven Gimnasium kweek Clivias en verkoop dan die plante en saad aan plantliefhebbers oral oor Suid-Afrika en ook internasionaal. Van sy plante se saad het al hul weg gevind na lande soos Italië, Rusland, Spanje, Amerika, Australië en die Verenigde Koninkryk.

Die groot keerpunt in sy lewe was toe hy as 10-jarige ’n bal oor die muur in die bure se tuin geskop het. Toe hy die bal gaan haal, het hy die oranje Clivias gesien wat in volle blom gestaan het. “Dit was vir my baie mooi. Ek het die tannie dadelik gevra watter soort blomme dit is. Die volgende dag het ek my pa gevra om my kwekery toe te neem en daar het ek al my spaargeld gebruik om vyf oranje Clivias te koop.”

Giovanni sê hy was gelukkig om in sy kinderdae steun van volwassenes te kry vir sy liefde vir Clivias. Hy sê Jennifer du Plessis wat in daardie stadium in De Rust gewoon het, het vir hom ’n mentor geword en hom gehelp om by die Tuinroete Cliviaklub betrokke te raak, terwyl dr Adam Barnard vir hom saad gegee het om te saai.

En van kleins af het hy gewoeker om geld met sy Clivias te verdien. Hy vertel hy het as laerskool­knaap ’n tafeltjie staan gemaak by ’n stopteken naby sy ouerhuis en van sy Cliviasaad verkoop.

Dié liefhebbery het ’n besigheid ge­naamd Karoo Clivias geword, en vandag bemark hy sy plante en saad hoofsaaklik deur Facebook en ’n webblad (www.karooclivias.weebly.com).

Die geld wat Giovanni met sy Clivias maak, ploeg hy net so in sy besigheid in. So het hy eers een en toe meer skaduhuise gebou, en koop hy ook saad en plante van skaarser kleure Clivias – soos pienk en groen – aan.

Hy werk daarvoor om “oor tien jaar” ’n susksesvolle kweker te wees, sê Giovanni.
Hy sê sy mark is hoofsaaklik plantliefhebbers wat besef dat die proses om ’n Clivia met ’n skaars kleur deur kruisbestuiwing te kweek soms jare lank duur.

“Dié proses duur baie lank en het baie toewying nodig. Dit kan byvoorbeeld tot vyf jaar duur voordat so ’n nuwe Clivia die eerste keer blom,” sê hy.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2017. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?