Carel en Rina se liefdeswerk met hout

Carel en Rina Nel van Oudts­hoorn by ’n lessenaar wat hulle pas gerestoureer het. Dié twee ywerige en hardwerkende Oudtshoorniete is ’n inspirasie vir mense van alle ouderdomme.Foto:  Liesel le Roux

Carel en Rina Nel van Oudts­hoorn by ’n lessenaar wat hulle pas gerestoureer het. Dié twee ywerige en hardwerkende Oudtshoorniete is ’n inspirasie vir mense van alle ouderdomme.  Foto: Liesel le Roux

Deur Liesel le Roux
WANNEER Carel Nel (65) oor die sygladde hout van ’n meubelstuk streel wat hy gerestoureer het, kan ’n mens sommer sien dat die restourasie van meubels is nie vir hom ’n werk nie, maar ’n liefdestaak.
Carel en sy vrou Rina (66) van Jubileestraat in Oudtshoorn is ’n formidabele kombinasie wat houtmeubels skoonmaak en restoureer, stoele en banke se riempies herstel, verfwerk van huise doen, dakke verseël en skadunet opsit.

En tussendeur maak hulle ook lekkers wat hulle verkoop en waarmee hulle al ’n gereelde klantebasis opgebou het.

Hulle geniet wat hulle doen, vertel die borrrelende Rina oor die ywer en toewyding waarmee hulle werk.
“Ons sal ook nooit kan ophou werk nie, want al die verskillende goed wat ons doen, help ons om kop bo water te hou.”

Sy vertel sy het nog tot so sewe jaar gelede toe sy ’n groot longoperasie ondergaan het, saam met haar man dakke geskuur.

Deesdae gebruik hy ’n tydelike werker om hom met sulke groot projekte by te staan, maar die kleiner take doen net hulle twee, en dikwels sommer vinnig-vinnig.

Carel vertel dat hy van sy skooldae af houtwerk gedoen het en nog altyd ’n liefde vir hout het.
“Ek probeer altyd ’n meubelstuk so netjies as moontlik klaar maak, en dit herstel sodat dit lyk soos dit veronderstel is om te lyk.”

Rina voeg by: “En as hy klaar ge­werk het, vee hy altyd met sy hand so liefderik oor die hout en sê: ‘Voel dit, so glad soos ’n baba se boudjies!’”

(Rina kan by 082 343 8742 gekontak word.)

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2017. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?