Briewe / Letters: Bekommerd oor agteruitgang

Ek wil saamstem met Nico Ungerer se brief (Die Hoorn, 2 Maart) en sy bekommernis oor die agteruitgang en gemors binne Oudtshoorn.

Op De Rust lyk dit nie beter nie. Ongeveer ’n maand gelede het ek ’n soortgelyke skrywe gerig oor dieselfde probleem hier op De Rust. Ek het hier­oor vrae gevra aan die DA en hul raads­-lid, maar tot sover geen reaksie ont­vang nie.

Dis ’n skande; hier is plekke waar dit ’n jaar lank nog nooit skoongemaak is nie. Sypaadjies is verwaarloos, ou vullis lê gewoonlik totdat dit toegegroei is. Op straat word gesuip in die teen­woor­digheid van almal en waterslote lê vol leë drankbottels en papiere. Die hoofstraat – wat die stilhouplek van ­toe­­riste en vakansiegangers is, moet ’n mens jou die meeste van die tyd voor skaam. Dankie tog aan besighede wat self voor hul plekke skoonmaak en netjies hou.

’n Mens het regtig al beter verwag onder die nuwe bewind. ’n Tyd gelede het die burgemeester gespog met die 20 nuwe voertuie wat ontvang is om ’n beter diens te lewer. Daarvan het ons nog nie veel gesien nie. Die voertuie word wel gereeld gesien.

Dis ’n groot bekommernis dat dorpe en gemeenskappe besig is om agteruit te gaan. Dienslewering het verswak, daar­om dat die publiek alewig moet vra om skoon te maak of heel te maak. Dis die gevolg van swak of geen beplanning nie en die regte leiding wat ontbreek.
– Albert Schoeman, De Rust

Log in with your credentials

Forgot your details?