Water altyd sensitiewe saak

Links: Lede van die Stompdrift-Kamanassie Watergebruikersvereniging wat verlede week van George van Biljon afskeid geneem het. Foto’s: Liesel le Roux

Lede van die Stompdrift-Kamanassie Watergebruikersvereniging wat verlede week van George van Biljon afskeid geneem het. Foto’s: Liesel le Roux

George van Biljon (middel) uittredende uitvoe­ren­de beampte van die Stompdrift-Kamanassie Watergebruikersvereni­ging ontvang ’n afskeids­geskenk van die vereniging se voorsitter, Johann Koegelenberg (regs). Links is Van Biljon se opvolger, Riaan Krüger.

George van Biljon (middel) uittredende uitvoe­ren­de beampte van die Stompdrift-Kamanassie Watergebruikersvereni­ging ontvang ’n afskeids­geskenk van die vereniging se voorsitter, Johann Koegelenberg (regs). Links is Van Biljon se opvolger, Riaan Krüger.

DIE Stompdrift-Kamanassie Watergebruikersvereniging (SKWGV) het verlede week tydens ’n funksie by Nostalgie af­skeid geneem van sy uitvoerende be­amp­te van die afgelope 31 en ’n half jaar, George van Biljon.

Van Biljon het op 30 Junie afgetree.

Met sy aanstelling het die SKWGV nog bekend gestaan as die Besproeiingsraad en was sy postitel die van “sekretaris”. Die finansiële state word vandag steeds sommer “sekretaris-rapporte” genoem.
Van Biljon word opgevolg deur Riaan Krüger. Krüger het op 1 Augustus die pos oorgeneem na die suksesvolle voltooing van ’n sesmaande-proeftydperk.

Die pos behels die verspreiding van water, bestuur en onderhoud van die Stompdrift- sowel as die Kamanassiedam en baie kilometers se beton- en grondkanale wat strek vanaf De Rust tot amper in Calitzdorp.

• Van Biljon het die week as volg gesels oor sy amper 32 jaar in die pos.
Hy sê hy onthou die eerste dag goed toe hy op 2 Januarie 1986 by die Besproeiingsraad – die Stopdrift Kamanassie Watergebruikersvereniging (SKWGV) se oorspronklike naam – begin werk het

“Mnr Jan Westenraad het my die og­gend voor die kantoor ontmoet en die sleutel van die kantoor aan my oorhandig. Binne ’n maand na my begin het die Stompdriftdam oorgeloop! In daardie stadium het ek nog basies niks geweet van hoe reëls en regulasies werk nie. ’n Belangrike reël bepaal dat geen water beskikbaar in riviere onder beide damme in die kanale van die SKWGV ingedraai mag word alvorens alle slote stroomaf van die damme vol water is nie.

“Die Stompdriftdam het ’n paar uur lank oorgeloop toe ek geskakel is deur ’n eienaar om van die water wat oor die damwal loop, in die kanaal in te draai sodat laagwaterbrûe stroomaf gebruik kon word. Nie baie lank nadat ek die water in die kanaal laat indraai het nie, is ek deur ’n eienaar wat kilometers verder stroomaf woon, geskakel en behoorlik geroskam oor my onwettige optrede en aangesê dat ek

onmiddellik die water moet terugsit in die rivier omrede daar nog geen water in die onderste slote is nie.
“Ek het bitter vinnig geleer dat daar geen manier is om almal tevrede te stel nie! Jy poog om so ver moontlik die meerderheid tevrede te hou.”

Van Biljon sê die telefoon in sy huis het tydens waterbeurte dikwels in die vroeë oggendure tussen 12:00 en 04:00 gelui. “Gewoonlik het my eggenote die telefoon geantwoord. Dan word vir haar gevra waar ek is. My vrou sal dan ant­woord: ‘Waar is ’n normale mens die tyd van die nag? Hy lê hier langs my in die bed, waar moet hy dan anders wees?’

“Die persoon aan die ander kant sal dan sê: ‘Hy moet by die water wees, want my water is te min oor die meter!’ ”

Van Biljon sê die November 1996-vloed was die grootste vloed wat hy in die 31 jaar beleef het.
“Die water in die rivier was so hoog dat dit in die kanaal by Welgeluk wat relatief naby die rivier gebou is, ingeloop het. In 2006 en 2007 was daar ook vloede, maar nie met die omvang van die 1996-vloed nie.”
Hy sê water in die Klein Karoo wat dikwels baie skaars is, is altyd ’n sensitiewe saak.
“Indien jy meer as ‘jou deel’ neem, neem jy van ’n ander se water.

“Vloedbesproeiing is ook lankal nie meer ’n opsie met die min water wat hier beskikbaar is nie. Waar dit prakties en ekonomies haalbaar is, is van kardinale belang om tegnieke te verander om boerdery ’n eko­no­mies haalbare onderneming te maak.
“Dit is ’n kwessie van ‘adapt or die’.”

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2017. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?