Veevoer krities nodig in Wes-Kaap

BENEWENS ’n kritieke tekort aan veevoer in die Wes-Kaap het produsente in die Suid-Kaap nou ook dringend veevoer nodig nadat baie weiding die afgelope week afgebrand het, sê Carl Opperman, uitvoerende hoof van Agri Wes-Kaap.

Agri Wes-Kaap lewer reeds droogtehulp aan produsente in die Sentraal-Karoo, Weskus-distrik, en aan droë gebiede in die Eden-distrik.

Geen ruvoer is al vir maande in die provinsie beskikbaar nie. Voorlopige opnames net in die Knysna-omgewing dui daarop dat sowat 1500 beeste, skape, varke en perde dringend voer moet kry. Heelwat vee het doodgebrand en opnames word tans gedoen om die omvang van die brandskade op plase te bepaal.
Agri Wes-Kaap het die afgelope week voerskenkings uit Klipheuwel, Hermon en Petrusburg in die Vrystaat gekry, wat na onder meer Knysna onderweg is. Voerskenkings is ook vanaf Richardsbaai, Vryburg, Tulbagh, Velddrif, De Rust, Montagu en die Paarl ontvang en Agri Wes-Kaap benodig dringend kontant om dit te vervoer.

In die verklaring bedank Opperman Graan Suid-Afrika en produsente in die noorde van die land wat besig is om te stroop en bereid is om mielies aan die Wes-Kaap te skenk.

Agri Wes-Kaap vra dat onderneming of individu wat kontant tot die AWK Droogtehulpfonds wil bydra, die kantoor by 021 860 3804 skakel. Agri Wes-Kaap lewer sedert November 2015 droogtehulp aan produsente.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2017. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?