Spogdiere te midde van erge droogte

Die twee vroue aan die spits van die Prins Albert-landbouskou - Madri Rossouw, voorsitter (links) en Laetitia Mulder (skousekretaresse). Foto: Marlene Malan

Die twee vroue aan die spits van die Prins Albert-landbouskou – Madri Rossouw, voorsitter (links) en Laetitia Mulder (skousekretaresse).
Foto: Marlene Malan

6 Skape Beoordeel

6 Wolklas

Deur Marlene Malan
Prins Albert se landbouskou is vanjaar vir die 51ste keer die mees gesogte uitstalruimte vir die diere en produkte van die omgewing se boere.

Verlede jaar het die skou sy vyftigste bestaansjaar gevier, maar vanjaar is dié tentoonstelling nog meer besonders omdat dit gedoen word in een van die ergste droogtetye in die Karoo.

Madri Rossouw, skoukomiteevoorsitter, sê dis waarom die geleentheid vanjaar opgedra word aan landbouers wat steeds voortgaan met voedselproduksie, al voel dit dikwels of die gebrek aan reën hulle wil laat handdoek ingooi.

Joseph Steyn, ’n boer van Prins Albert, vertel: “Ek ervaar self as boer hoe skrikwekkend hard die droogte slaan. Dit gaan oor veel meer as net ’n seisoenale ongemaklikheid. Dis ’n toestand wat aan die boer se siel vreet soos ’n nimmereindigen-de kanker. Dis ’n resies teen tyd sonder om te weet waar die wenpaal is.”

Steyn tree by vanjaar se skou in gesprek met dr Sue Dean, ’n plaaslike botanikus, en Hélène Smit, ’n bestuurskonsultant wat op Prins Albert woon, oor dié knellende onderwerp. “Ons moed is ruim laer as laasjaar hierdie tyd, maar ons glo steeds,” sê Steyn.

En dis dié manne- en vrouemoed wat vanjaar weer by die landbouskou getoon gaan word, want ondanks die feit dat Prins Albert in ’n droogte-rampgebied geleë is, kry dié groep mense – vir wie grond en die opbrengs uit die grond hul hele lewe is – dit weer reg om hul suksesse te wys.

Een van die hoogtepunte is ’n Angorabokskeer-demonstrasie deur Gay van Hasselt van Prins Albert, ’n top-Angoraboer in Suid-Afrika en die “Boer maak ’n plan”-stalletjie.

Prins Albert se landbouskou is een van die min tradisionele uitstallings vir boere, deur boere, wat nog in Suid-Afrika oorgebly het: Soos altyd ding hulle mee om die gehalte van diere, en vier hulle die suksesse deur boerdery demonstrasies, ’n ge-leentheid om saam te eet, drink, lag en musiek te maak word.

Soos altyd is daar weer ’n magdom stalletjies in die skousaal. Die plaaslike Band of Brothers en die Pro Academy-dansskool van Oudtshoorn gaan ook optree. En dan gaan daar lekkerlag-mededinging soos die bokdrolkompetisie en die beesloop aangebied word.

Verdere hoogtepunte is die gewilde steakete en dans, die kroning van Mnr en Mej Skou, en ’n geleentheid vir ma’s om te wys hoe oulik hul baba of kleuter is.

Die skou vind volgende naweek van 19 tot 21 Oktober plaas op die Prins Albert-skouterrein.
Vir meer inligting kontak gerus vir Yvonne Groenewald by 072 138 9664 (baba-en-kleuter-kompetisie), Michelle Smith by 082 443 8275 (Karoo-Koekedoortjie-kompetisie) en Madri Ros-souw by 083 383 2591 (meer inligting oor skou-bedrywighede), of skryf aan Laetitia Tolken by palandbougenootskap@gmail.com vir die volle-dige skouprogram.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2017. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?