Skou bring boodskap van deursettingsvermoë

‘Ondersteun Prins Albert se landbouers in dié droogteramptyd’

Dié twee foto’s bo en regs bo is verlede jaar tydens die baie geslaagde landbouskou van 2017 geneem.
Foto’s: Marlene Malan

Deur Marlene Malan
TE midde van ’n jarelange, fel droogte het Prins Albert se boerderygemeenskap besluit om van­­­jaar tóg met die landbouskou voort te gaan omdat dit ’n boodskap van deursettingsvermoë uitdra.

So sê Madri Rossouw, voorsitter van die skou­komitee, oor die tentoonstelling van diere en landbouprodukte wat van 18 tot 20 Oktober op die skouterrein plaasvind.

“Met die droogte van die afgelope twee jaar kry die boere baie swaar, die ekonomie druk, die veld is droog, die water min en hulle is nie in die finansiële posisie om genoeg voer te koop nie.

“Ons as bestuur het besluit om nie ons skou weens dié kwessies uit te stel nie – al is die vee minder en nie in dieselfde kondisie as voorheen nie. Want as jy één keer uitstel, is dit maklik om volgende jaar ook uit te stel.”

Prins Albert se skoubestuur voel ook dis belang­rik dat die omgewing se landbouers saamkuier en ontspan te midde van ’n uiters spanningsvolle tyd.

“Die boere het reeds hul beste kudde- en stoetdiere en vetvee vir die skou uitgesoek en begin afrond. Die stalletjies het baie voorraad, die tente is afgestof om nuwe produkte uit te stal en te verkoop, en ons bied hope vermaak vir alle inwo­ners.”

Op 18 Oktober skop die skou af met ’n veevei­ling waar boere hul vee kan verkoop indien hulle nie genoeg voer het nie. Die veiling word aangebied deur Riaan Harding van GWK.

’n Op-die-hoef-slaglamkompetisie vind dan ook plaas.

Borge, vertoners en uitstallers woon dié aand ’n spesiale onthaal by. Die skou word dié aand amptelik hier geopen deur Chris

Krone van AWK (verteenwoordiger van die vrugtebedryf).

Cornie Swart, AWK-president en verteen­woordiger van BOCMA (Breede-Overberg Catchment Management Agency) bied op die Sater­dag ’n gesprek aan oor registrasie en verifikasie van water vir vee en boorde.

In dié moeilike tyd waarin die boere aanhou sorg dat ons kos op die tafel het, wil die Prins Albert Landbougenootskap opnuut toesien dat die landboubedryf van die omgewing in die kollig bly, sê Rossouw.

• Navrae, Cobus Bothma (072 142 9088); Laetitia Mulder (083 310 2984).

• Die volledige skouprogram verskyn onderaan.

Log in with your credentials

Forgot your details?