Prins Albert lewer land se top-Angora-boere

Jordi van Hasselt (links) en Klaas Williams, plaasbestuurder by Van Hasselt Farming.  Foto: Sybokhaar SA

Jordi van Hasselt (links) en Klaas Williams, plaasbestuurder by Van Hasselt Farming.
Foto: Sybokhaar SA

Deur Marlene Malan
VAN HASSELT FARMING van Prins Albert is die tweede agtereenvolgende jaar aangewys as Suid-Afrika se top-Angora-boere.

Dié ma-en-seun-span, Gay en Jordi van Hasselt, het onlangs die Miyuki Keori-sybokhaargrootkampioentrofee in Port Elizabeth gewen. Dis aan hulle oorhandig deur Kiyoshi Okumura van Japan, president van die Internasionale Sybokhaarvereniging.

Dit volg kort nadat ’n baal somer-kleinbokkiehaar van die Van Hasselts ’n maand gelede ’n wêreldrekordprys van R896/kg behaal het by die 2017-sybokhaarveiling in Port Elizabeth. Dit het die vorige rekord, wat in 2016 opgestel is, met R37/kg oortref.

Die trofee vir dié prestasie word geborg deur die internasionale Erme­negildo Zegna-modehuis om erkenning te gee aan die top-sybok­- haarskeersels in die wêreld. Luidens ’n verklaring van OVK, wat die veiling aangebied het, “is die Van Hasselts bekend as telers van topge­- halte-Angorabokke en hul skeersels wêreldwyd uiters gesog. Die Ja­panse modehuis Miyuki is by­voorbeeld een van die Van Hasselts se kliënte”.

By die toekenning van die Miyuki Keori-trofee vroeg in Augustus het Okumura gesê “sybokhaar is die mees unieke vesel in die wêreld, en Suid-Afrikaanse produsente is leiers op dié gebied”.

Op die Van Hasselts se hakke in dié kompetisie het gevolg Sarel du Plessis van De Rust (mees volhoubare sybokhaarprodusent), Barries Snijman van Vleikuil Boerdery, Rietbron (reserwe-grootkampioen), Frans en Louw Retief van Driehoeksfontein Boerdery in Murraysburg (kampioen-winterskeersel), en Billy Colborne en Seun van Willomore (kampioen-somerskeersel).
Die Van Hasselt-Angorastoet is een van die oudstes in Suid-Afrika.

Gay het onlangs in ’n praatjie oor entrepreneurskap gesê die geheim van sukses is “om nie bang te wees vir harde werk nie en om aan te hou en aan te hou, selfs al wil jy soms moed verloor”.

Sybokhaar SA en Gay se dogter, Frances, het vroeër vanjaar die New Yorkse “breigare-ghoeroe”, Steven B, na Prins Albert gebring vir ’n demonstrasie en praatjie oor die “wonders van sybokhaar”.

Gay van Hasselt.  Foto: Marlene Malan

Gay van Hasselt. Foto: Marlene Malan

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2017. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?