Prins Albert-brande volg op brandstigting – Splinternuwe brandweerwa op pad

So het die ingang na Prins Albert vanaf Klaarstroom op Sondag en Maandag gelyk.                  Foto: Linda Jaquet

So het die ingang na Prins Albert vanaf Klaarstroom op Sondag en Maandag gelyk. Foto: Linda Jaquet

Deur Marlene Malan
DIE brand by die ingang na die Swart­bergpas, net buite Prins Albert, is gestig.
Anders as die reuse brand in die Swartberg wat verlede jaar deur weer­lig veroorsaak is, het Sondag en Maandag se brand begin óf deur ’n si­­garetstompie wat by ’n motor uitgegooi is, of deur houtkappers wat in die digbeboste gebied vuurgemaak het.

So vertel Prins Alberters wat Sondagaand omstreeks tienuur rook gesien en geruik het en gaan ondersoek instel het oor die oorsprong daarvan.

Heftige gesprekke is op sosiale media tussen inwoners van die dorp aan die gang oor die reaksietyd van die brandweer en polisie, asook die gebrek aan behoorlike brandweertoerusting waaronder die dorp al jare lank gebuk gaan.

Volgens die munisipaliteit het hulle onmiddellik gereageer op inligting oor die rookwolke, en het hulle “enige persoon wat waterwaens het” gevra om te kom help.

Die goeie nuus nou is dat Prins Albert se moderne, splinternuwe brand­weerwa op pad is, het Anneleen Vorster, munisipale woordvoerder en bestuurder korporatief en gemeenskapsdienste, bevestig. “Twee van ons personeellede gaan volgende week vir ’n weeklange opleidings­kursus in brandbestryding met die nuwe brandbestrydingsvoertuig. Hul­le bring dan die voertuig terug Prins Albert toe,” het Vorster gesê.
Volgens Vorster is die verwoesten­de brand wat digby die plaas Scholtzkloof buite Prins Albert begin het, nou onder bedwang, maar smeulende kole word dopgehou om te keer dat dit weer in winderige toestande opvlam.

Die oorsaak van die brand, wat sowat een kilometer van Prins Albert aan die R407 – tussen Prins Albert en Klaarstroom – gewoed het, is nog nie bekend nie, maar volgens die onderburgemeester en DA-raadslid Linda Jaquet, asook inwoners wat ingespring en die brand help blus het, word daar bespiegel oor die moontlikheid van brandstigting deur siga­retstompies wat in die beboste gebied by die ingang na die Swartbergpas neergegooi is of deur houtkappers wat in die omgewing bedrywig was.

Volgens Jaquet is ’n groot gebied vol veldplante en bosse verwoes, en die eie­naar van die toeristeoord Bushman Valley, Ian Uys, moes alles in die stryd werp om die vlamme van dié perseel te hou. Bushman Valley is net oorkant die ingang na die Swartbergpas geleë.

Vorster het gesê die munisipaliteit “het baie goeie ondersteuning van die kontrakteurs ASLA en HENRA gehad, sowel as van Lutzkie Boerdery van Prins Albert. Op die ou end het ons dus veel meer watertenks en brandbestrydingsapparaat as ooit tevore gehad, of wat ons sekerlik ooit weer sal hê. Die wind was egter teen ons en die terrein was nie begaanbaar nie.

“Ons beskik nie oor mannekrag om in te stuur om brandbestryding in beboste en bergagtige gebiede te doen nie. Ook nie noodwendig oor die basiese toerusting vir so iets nie.”

“Die munisipaliteit se personeel, NARYSEC studente (National Rural Youth Service Corps – Nasionale Landelike Jeugdienskorps) en EPWP-werkers (Expanded Works Programme – Uitgebreide Werksprogram) het hulle egter uitstekend van hul taak gekwyt. Alles is in die stryd gewerp om te verseker dat die brand nie oor die koppie na die dorp of na die watersuiweringswerke versprei nie.  Die brand is deur die nag gemoniteer en word steeds dopgehou om smeulende kole in bedwang te bring.”
Volgens haar wil die munisipale owerheid die gemeenskap bedank vir hul ondersteuning. “Dit word opreg waar­deer.”

Volgens Jaquet moet alle inwoners van Prins Albert water steeds spaarsamig gebruik om te verseker dat daar genoeg water beskikbaar is in dié droë tyd, en vir ingeval die vuur weer opvlam.
Prins Albert en die omliggende gebied is verlede jaar tot ’n droogterampgebied verklaar.

Log in with your credentials

Forgot your details?