Nuwe verbod op uitvoer van vars volstruisvleis

Risiko van H5N8-virus by volstruise in lente 

Deur Tisha Steyn
DIE risiko van ’n H5N8-besmetting onder volstruise is meer waarskynlik in die lente- en somermaande wanneer migrerende watervoëls meer algemeen in die Suid-Kaap voorkom.

Dis die afleiding van Charl du Plessis van Klein Karoo International (KKI), die grootste uitvoerder van volstruisprodukte.

“Watervoëls, wat vermoedelik die draers van die hoogs patogene virus is, migreer in die lente en somer hier­heen en kan die virus met hulle saambring.”

Volgens Du Plessis hou KKI die virus se migrasie van die H5N8-virus dop sedert dit in 2016 in Rusland kop uitgesteek het, na die VSA en Europa versprei het en toe via Egipte na Nigerië en Midde-Afrika en uiteindelik Zimbabwe versprei het.

Tans is vier plase in Mpumalanga, waar die virus in Junie geïdentifiseer is, onder kwarantyn geplaas.
Na aanleiding van die uitbreking in Mpumalanga, en in terme van die World Organisation for Animal Health (OIE) asook die Europese Unie se reëls vir handel indien daar ’n hoogs patogene virus in ’n land geïsoleer word, is daar onmiddelik ’n verbod geplaas op die uitvoer van rou pluimveeprodukte, wat rou volstruis­vleis insluit.

Die verbod knou die volstruisbedryf opnuut, skaars twee jaar nadat die uitvoer van vars vleis na die Europese Unie-lande weer toegelaat is.

“Die nuwe verbod op die uitvoer van vars vleis lê die ganse bedryf aan bande, want nou is ons opnuut afhanklik van die uitvoer van gaar vleis. ’n Groot deel van die mark verkies vars vleis eerder as ’n gaar produk, en waar vars vleis beskikbaar is, beperk dit in ’n mate die gebruik van gaar vleis, wat reeds met 60% afgeneem het sedert rou vleis weer op die mark geplaas is,” sê Du Plessis.

Die uitbreking van H5N8 roep die uitbreking van H5N2 in April 2011 in herinnering, wat gelei het tot ’n verbod op die uitvoer van vars vleis en die grootskaalse uitwissing van volstruise wat positief vir die virus getoets het in ’n poging om die virus te stuit.

Maar daar is geen keer aan die virus nie, maak nie saak watter stam dit verteenwoordig nie.
“Die virus kom in siklusse van vyf, ses jaar voor, maar tot dusver het ons te kampe gehad met lae patogene virusstamme. ’n Breë-spektrum ent­stof is een van die moontlike maniere om die hoogs patogene H5N8-virus teen te werk, maar dit is nie in hierdie stadium ’n opsie nie.”

Biosekerheid
Na die 2011-uitbreking het die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye se veeartseny-afdeling streng nuwe riglyne, in die VPN04 vervat, vir biosekerheid neergelê.

Volgens Piet Kleyn, uitvoerende bestuurder van die SA Volstruisbesigheidskamer (SAVBK), moet volstruisprodusente hierdie maatreëls verskerp deur die volgende toe te pas:

• Vermy sover moontlik kontak tussen volstruise en watervoëls;
• Drinkwater moet doeltreffend gechlorineer word;
• Kleding en skoene van personeel wat met volstruise werk moet deeglik volgens die VPN04-voorskrifte ont­smet word;
• Behoorlike toegangsbeheer moet toegepas word; en
• Enige simptome van die virus moet by ’n privaat- of staatsveearts of die SAVBK aangemeld word.

Dit is nie seker watter invloed H5N8 op volstruise het nie, maar produsente word gemaan om op te let ’n verandering in voedinginname, groen urine of ’n afwyking in normale gedrag.

Dit is ook nie seker watter invloed die H5N8-virus op mense het nie, maar persone wat in noue kontak met besmette volstruise is, kan griepsimptome openbaar.

Volstruise word getoets voor enige beweging en slegs virusvrye plase kan ’n permit bekom om die volstrui­se te laat slag by EU-goedgekeurde abattoirs. Hier geld baie streng standaarde ten einde voedselveiligheid te waarborg.

Vir meer inligting, kontak die SAVBK by 044 272 3336, of per e-pos by info@saobc.co.za

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2017. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?