Kollig op onteiening van grond

Prof Elmien du Plessis. Foto: Schalk le Roux

Deur Schalk le Roux
DIE ANC-regering sê nêrens in amptelike dokumente hulle wil produktiewe grond sonder vergoeding onteien nie, het prof Elmien du Plessis, medeprofessor in regte aan die Noodwes-Universiteit, verlede Donderdag by die algemene jaarvergadering van Klein Karoo Eiendoms Beperk op Oudtshoorn gesê.

Die president, Cyril Ramaphosa, en ander ANC-leiers het ook al verskeie kere gesê die staat sal nie grond sonder vergoeding onteien as dit die ekonomie, veiligheid en voedselsekerheid in die land bedreig nie, het sy bygevoeg.

Du Plessis hetgepraat oor navorsing wat sy doen oor die jongste wendings ten opsigte van grondhervorming en grondonteie­ning.

Sy het gesê volgens die voorge­stelde onteie­ningswetsontwerp word gekyk na grond wat vakant is, wat gehou word vir spekulasie, grond wat ’n baie hoë skuldlas op het, stedelike grond waar daar reeds informele nedersettings is, ongebruikte grond en geboue wat nie meer onder beheer van die eienaars is nie (abandoned buildings).

Om te weet waarheen Suid-Afrika met grondhervorming en onteiening op pad is, moet ’n mens volgens Du Plessis eers weet “waar is ons”.

Hoewel die staat en Agri SA albei grond­oudits gedoen het (waarvan die bevindinge van mekaar verskil), is dit nodig dat die staat ’n behoorlike, wetenskaplike grondoudit doen op grond waarvan daar sinvol oor die toekoms besin kan word.

Sy sê ver-linkses en ver-regses buit mense se vrese en frustrasies rakende grondhervorming uit terwyl daar ’n middelgroep is wat die land sal wil vorentoe neem op ’n manier wat sin maak vir alle burgers.

Daar word na allerhande maniere gekyk hoe grondhervorming kan plaasvind. Onteiening sonder vergoeding is een van die meganismes om grond te herverdeel, maar vorm slegs ’n beperkte deel van ’n groter prentjie, het sy gesê.

Volgens Du Plessis sal sy graag ’n uitkoms wil help verseker waar daar nie bloot ’n wenner en ’n verloorder is nie, en verwys na ’n uitspraak van JF Kennedy: Those who make peaceful revolution impossible will make violent revolution inevitable.

“Wat is die grense van kompromie wat sal ver­seker dat ons nie eindig in ’n elkeen vir hom/haarself-scenario nie. Dit vereis dat ons almal oop sal moet wees vir die gesprek, hoe moeilik dit ook al mag wees.

“Die alternatief is dat ons nalaat om die geleent­heid van ’n vreedsame revolusie wat in die 1990’s begin is en waarvoor Suid-Afrika so bekend is, te voltooi en ons dan opeindig in ’n geweldadige re­volusie waar ons almal verloor.”

Volgens Du Plessis kan Suid-Afrika nie net formele geregtigheid hê wat berus by die wetlike en politieke ooreenkomste wat bereik word nie.

“Ons benodig ook ’n aanvullende en opvoedkundige en sosiaal-sielkundige proses, ’n proses waar ons deur die haat, die wens vir wraak, die wantroue en die pyn werk.

“Die reg het grense. Studies toon in die afwesig­heid van ’n bottom up process waarby ons gewone burgers ’n bydrae lewer om die top down process – wat die politici op ons afdwing – te komplementeer, sal die ooreenkoms nie oorleef nie, en geweld waarskynlik uitbreek.”

Sy het ook verwys na onlangse kommentaar wat die ooreenkomste tussen mense wat met die regering onderhandel vergelyk met dit wat tussen Piet Retief en Dingaan gebeur het. “Dit toon dat ons onsself al jare lank aan hierdie verhaal van konflik en wantroue verbind.

“Ek is een van diegene wat graag ’n land vir my kinders wil nalaat wat vry is van hierdie las van ons geskiedenis. Om dit te bereik, gaan openhartige gesprekke, toewyding, baie harde werk en kompromieë verg.

“Ek hoop dat ek vir julle inligting gegee het waarmee julle julself kan bemagtig om by te dra tot ’n sinvolle uiteinde.”

Ter afsluiting het Du Plessis verwys na ’n opmerking van Jan Smuts: “In Suid-Afrika gebeur daar selde die beste ding, maar die slegste ding gebeur ook nooit nie.”

Log in with your credentials

Forgot your details?