Kollig op bemagtiging en volhoubare water vir Klein Karoo

Van die rolspelers teenwoordig by ’n vergadering waar ’n bemagtigingsplan en die Klein Karoo Besproeiingskema bespreek is, is van links Colan Sylvester, burgemeester van Oudtshoorn, Riaan Krüger, bestuurder van die Stompdrift Kammanassie Watergebruikersvereniging, prof Quinton Johnson, voorsitter van die Nasionale Instituut vir Grond, Herkoms en Menseregte, Laubscher Coetzee van Agri Wes-Kaap, Joey Potgieter van Agri Klein Karoo, dr Johan van Zyl van die Sentrum vir Ontwikkelingsteun by die Universiteit van die Vrystaat en Bouzyl Consulting, en Clinton Massyn, ’n konsultant by Bouzyl Consulting. Hier luister hulle aandagtig terwyl Johan Schoeman van die Klein Karoo Groep vertel het van pogings 35 jaar gelede om water van die Oranjerivier in die Klein Karoo te kry. Foto: Schalk le Roux

Deur Schalk le Roux
DIE aanlê van water van die Oranjerivier na die Klein Karoo het Vrydag weer ter sprake gekom as ’n moontlike manier om ’n volhoubare waterbron vir ’n besproeiingskema vir die streek te verkry.

’n Vergadering oor die groot voordele van ’n volhoubare bron met genoeg water vir besproeiing en die bydrae wat dit tot bemagtiging in die streek kan speel, is deur verskeie rolspelers by die Turnberry Boetiekhotel op Oudtshoorn gehou.

Onder die teenwoordiges was prof Quinton Johnson, voorsitter van die Nasionale Instituut vir Grond, Herkoms en Menseregte, Colan Sylvester, burgemeester van Oudtshoorn, dr Johan van Zyl van die Sentrum vir Ontwikkelingsteun by die Universiteit van die Vrystaat, Laubscher Coetzee van Agri Wes-Kaap, Joey Potgieter van Agri Klein Karoo en Riaan Krüger, bestuurder van die Stomp­drift Kammanassie Watergebruikersvereniging.

Alternatiewe benadering van grondhervorming

By die vergadering het Potgieter ’n bespre­kings­punt wat hy by Agri Wes-Kaap se jaarkongres in Maart op Oudtshoorn op die tafel geplaas het, aan die teenwoordiges voorgehou.

Dit het gehandel oor ’n alternatiewe benadering ten opsigte van grondhervorming.

Vir enige boerdery om suksesvol te wees, is geskikte grond, noodsaaklike produksiemiddele, waarvan water die belangrikste is, kennis en vaardigheid, markte en bedryfskapitaal en toerus-ting nodig, het hy gesê.

Potgieter het beklemtoon dat grondhervorming bevorder kan word deur samewerking tussen die staat en die landbou.

Die nodige landbou-infrastruktuur bestaan reeds in die Klein Karoo, maar wateronsekerheid belemmer die landbouvooruitsigte, het hy gesê.

Hy het voorgestel dat as die staat water verskaf, grondeienaars 25% van hul grond vir hul werkers in ’n trust sal plaas waarop hulle kan boer.

Die nodige kundigheid bestaan reeds op die plase by die eienaars en die werkers. Die markte vir landbouprodukte bestaan ook reeds en kan verder ontwikkel word.

Die eienaars beskik reeds oor produksiemiddele soos trekkers en landbou-implemente wat teen ’n tarief aan bemagtigdes beskikbaar gestel kan word. Dan hoef daar nie duur nuwe toerusting gekoop te word nie, het Potgieter gesê.

Volgens hom sal die plan ook werkloosheid aan-spreek. Dit sal nie net op primêre vlak werk skep nie, maar ook by landbouverwerkingsbesighede. “Een werksgeleentheid op die plaas, bied tot agt werksgeleent­heid met die verwerkingsketting af.”

Hy het gesê as landbougrond aan onervare, onbevoegde landboutoetreders oorhandig word, is dit ’n resep vir mislukking.

As grondeienaars egter grond oordra aan hul werkers, wat reeds ervaring het, sal daar ook men­tor­skap wees. “Ons ken mekaar en is gereeld in gesprek met mekaar. Grondeienaars sal dit nie kan bekostig dat mentorskap faal nie,” het hy gesê.

Potgieter het ook na ’n volledige studie verwys waar benewens water van die Oranjerivier ook gekyk is na die beskikbaarheid en lewensvatbaarheid van ondergrondse waterbronne en damme.

Hy het die deurslaggewende rol wat landbou in die Klein Karoo se ekonomie en welvaart speel, beklemtoon. “Dié potensiaal kan slegs verwesenlik word as daar voldoende waterbronne is.”

Positiewe impak van betroubare waterbron

Tydens die vergadering het dr Johan van Zyl van die Universiteit van die Vrystaat se seuntrum vir ontwikkelingsteun, ’n “Nuwe Plaasbemagtigingsbloudruk” voorgehou, en verwys na die positiewe impak wat ’n betroubare waterbron op landbou in die Klein Karoo kan hê, ook ten opsigte van eko­nomiese en sosiale ontwikkeling.

Hy het gekyk na watter rol die landbouprodukte waarmee reeds in die Klein Karoo geboer word, soos saadproduksie, olywe, volstruise, wild en bok­ke, in bemagtiging kan speel.

Bedreigings vir suksesvolle bemagtiging sluit in water, vaardigheidsvlakke, kapitale insette en beskikbare landbougrond, het hy gesê.

Hy het ook die kollig laat val op arbeidsintensiewe produkte wat oorweeg kan word en wat hulle uitleen tot bemagtiging en waardetoevoeging.

Een so ’n produk is turksvye. Daar bestaan reeds ’n doringlose turksvye. Behalwe dat dit as vars cholesterolvrye vrug met lae kalorieë geëet kan word, kan daar meel en voer van gemaak word sowel as ’n hoë gehalte olie (van pitte).

In ’n oop gesprek het George Kersop, raadslid van Oudtshoorn, gesê die proses van mense wat van plase na dorpe verhuis moet gestop word. “Op dorpe raak baie van dié mense deernisgevalle.”

Ernie Fourie het gesê daar is reeds in 2010 voorspel dat daar groot waternood op Oudtshoorn en Calitzdorp gaan ontstaan, soos nou die geval is.

Riaan Krüger het gesê die Stompdrift/Kamma­nassiewaterskema begin 10 km van De Rust tot by Calitzdorp. “Die infrastruktuur bestaan reeds om water oor die hele gebied te versprei,” sê hy.

Pieter de Jager van Absa het gesê die landbouprentjie in die Klein Karoo lyk nie mooi nie.

“Dit is die derde jaar van droogte. Voorheen het volstruisboerdery uitkoms gebring in tye van droog­te aangesien droogte volstruisboerdery nie so erg raak nie. Nou is daar egter ook druk op volstruisboerdery, al is daar ligpunte.

“Die droogte het ’n verwoestende uitwerking op aangeplante gewasse. Weens die watertekort het baie boere se omsette tot met

50% gedaal. Veeboere moes hul kuddes tot kernkuddes verminder.

“Ons het ’n jaar gelede verwag dat baie boere dit nie meer lank gaan maak nie. Hulle het egter uitgehou, ons weet egter nie meer hoe lank nie.”

Volgens De Jager het die watertekort ook ’n negatiewe impak op banke. “As ons water kan kry, sal dit die risiko ook vir banke verminder.”

Laastens het hy gesê ’n tekort aan water het ’n negatiewe uitwerking op die waardasie van grond.

Prof Johnson het gesê hy het sy M-verhandeling op Elsenburg gedoen en het sedertdien ’n belangstelling in die landbou.

Hy het gesê hy voel baie positief oor die gesprek wat hy by Vrydag se vergadering gehoor het, veral omdat landbou nie net oor voedselsekerheid nie, maar ook oor nasiebou gaan.

“Die idees wat ek gehoor het, is baie goed, maar hoe gaan ons dit maak werk. Hier is die klem op water, maar in Pretoria is die klem op grondhervorming en die restourasie van menswaardigheid. En dié klemme kom nie altyd bymekaar uit nie. Daarom moet ons by mekaar uitkom en brûe bou.”

Johnson het gesê hy kry die indruk dat die bemagtigingsplan vir die Klein Karoo nie uit dwang gedoen word nie. Hy het egter ook gevra wat dryf die saak: “Is dit water of is dit bemagtiging? Wil ons hê die ding moet werk?”

Hy het gesê “ons moet uit die boks dink, en weet waar die boks is. Wat is die deurslaggewende faktor wat dié ding kan maak werk”.

Johnson het voorgestel dat ’n agripark deel ge­maak word van die bemagtigingsplanne.

Op voorstel van Johnson is ’n aksiekomitee ge­stig wat sal fokus op bemagtiging en die verkryging van ’n volhoubare waterbron. Die lede van is Coetzee, Potgieter, Krüger, Fourie en Johan Koegelenberg. Johnson is gevra om as adviseur vir die groep op te tree. Daar is ook voorgestel dat potensieel bemagtigingsbegunstigdes

Log in with your credentials

Forgot your details?