Koegelenberg vra vrae oor landbou

DIT moet voor die DA se deur gelê word dat daar nie meer landbouverteenwoordiging op die munisipaliteite en distriksmunisipaliteite is nie, sê Johann Koegelenberg, oud-DA-raadslid van die Eden Distriksmunisipaliteit. Koegelenberg het ge­reageer op ’n berig twee weke gelede in Die Hoorn oor ’n vergadering tussen die Oudtshoorn Munisipaliteit, die Eden Distriksmunisipaliteit en landbouers oor grondpaaie in die munisipale gebied.

Teenwoordiges het dit as ’n “geskiedkundige eers­te vergadering” tussen landbouers en raadslede van die munisipaliteite bestempel.

Koegelenberg sê egter so ’n vergadering was slegs nodig omdat daar sedert 2016 se verkiesing geen landbouverteenwoordiger in die Eden Dis­triks­munisipaliteit is nie. Voorheen kon hy en landbouers van ander gebiede wat raadslede was, op daaglikse basis probleme wat landbou raak, aanspreek en oplossings vind.

Koegelenberg sê hy en ander landbouers wat hul as raadslede beskikbaar gestel het vir 2016 se ver­kiesing, is so laag op die DA se proporsionele lyste geplaas dat hulle nie raadslede kon word nie. “Nou word die landbou deur dorpsinwoners verteen­woordig wat geen kontak of kennis van die landboustreke het nie.”

Volgens Koegelenberg het oud-minister Kraai van Niekerk, woordvoerder van landbou vir die DA in die parlement, in 2005 Agri Klein Karoo se bestuur kom versoek om landbouverteenwoordiging in munisipaliteite voor te stel. Dit het volgens Koegelenberg goed gewerk. “Nou is daar ook glad nie landbouverteenwoordiging in die Wes-Kaapse parlement soos in die verlede nie. My vraag is wat is tans die DA se gesindheid oor landbouverteenwoordiging op die drie regerings­vlak­ke.”
Jaco Londt DA-streekvoorsitter, sê die vergade­ring tussen Eden, Oudtshoorn en die landbou is op versoek van DA-raadslid Johan Fourie gereël.

“Dis ’n positiewe stap om gesprekvoering tussen die rolspelers op ’n formele platform te hou.
“Die DA besef dat die landbou ’n kritieke rol speel in die ekonomiese groei van die land, provinsie en plaaslike distrikte en poog om positiewe en pro-aktiewe verhoudinge te bou met die rolspelers op alle sfere.”

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2017. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?