Hofbevel vir water aan plaasbewoners toegestaan

Mense betoog Donderdagoggend voor die Oudtshoorn Landdroshof waar ’n groep plaasbewoners aansoek gedoen het vir ’n hofbevel om ’n boer van Stolsvlakte te verplig om watertoevoer na hul huise te herstel.

Mense betoog Donderdagoggend voor die Oudtshoorn Landdroshof waar ’n groep plaasbewoners aansoek gedoen het vir ’n hofbevel om ’n boer van Stolsvlakte te verplig om watertoevoer na hul huise te herstel.

Plaasbewoners van die Oudtshoorn-distrik het gisteroggend ’n tussentydse hofbevel verkry ingevolge waarvan die watertoevoer na hul huise onmiddellik herstel moet word. Die mense woon op grond van Hannes Terblanche in die Stolsvlakte-omgewing.

Volgens Leon Campher, bestuurder van die Advieskantoor in Dysseldorp, is water na die mense se huise op 22 Desember 2015 afgesluit. Drie huise is volgens Campher geraak.

“Tot so elf dae gelede het die Oudtshoorn Munisipaliteit water na die mense aangery vir verbruik, maar as gevolg van groot watertekorte in die munisipale gebied kon die munisipaliteit nie daarmee voortgaan nie. Die mense is vandag al elf dae sonder water.”

Terwyl die aansoek voor die hof gedien het, het ‘n groot groep mense buite die Oudtshoorn Landdroshof plakkate geswaai terwyl uitroepe soos: “Gee vir ons mense water!” en “Ons soek water en krag!” weerklink het.

Die plaasbewoners is na verneem word nie in diens van Terblanche nie en woon net in huise op die plaas.

Terbanche kon nie vir reaksie bereik word nie.

Die Hoorn is bewus daarvan dat gesprekke tussen verteenwoordigers van die plaasbewoners en die grondeienaar oor verskeie kwessies verlede jaar gevoer is. (Berig deur Liesel le Roux)

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2017. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?