Goeie jaar ondanks moeilike toestande

Deur Schalk le Roux
ONDANKS baie moeilike omstandighede in die volstruisbedryf en ’n daling van 0,4% in omset, het Klein Karoo Eiendoms Beperk (KKEB) steeds ’n netto wins van R41 264miljoen gemaak vir die boekjaar wat Junie 2017 geëindig het, sê Johan Schoeman, uitvoerende hoof van KKEB.

Die groep se omset het vanaf R1,586miljard tot R1,579miljard afgeneem.

Dié daling kan grootliks toegeskryf word aan die moeilike omstandighede waarin KKI sake gedoen het. “Hoewel varsvleisuitvoere in September 2015 hervat het, het KKI gesukkel om sy vorige markaandeel te herwin. Die prys van vars vleis kon ook nie tot vroeëre vlakke herstel nie.

“Die hervatting van varsvleisuitvoere het ook tot gevolg gehad dat die hoeveelheid vleis wat vir hittebehandeling beskikbaar was, afgeneem het.

“As gevolg van die griepuitbraak in die hoenderbedryf is gedurende die laaste week van die huidige verslagjaar (Junie 2017) weer ’n verbod op die uitvoer van vars vleis geplaas,” het hy gesê.

Die mark vir volstruisleer is ook onder druk en die omset van die vere-afdeling het gedaal weens te min vere, het Schoeman bygevoeg.

Die baie moeilike handelsomstandighede het tot gevolg gehad dat KKI se omset vanaf R865mil-joen tot R755miljoen gedaal het.

Schoeman sê Klein Karoo Saadproduksie se omset het van R252miljoen tot R275miljoen gegroei met die netto-wins wat van R35,4miljoen tot R41miljoen toegeneem het.

Klein Karoo Agri (KKA), wat van begin 1 Julie 2016 as ’n afsonderlike maatskappy begin handel dryf het, het ook ’n baie goeie jaar beleef, het Schoeman gesê.

Terblanche du Plessis, besturende direkteur van KKA, het in sy oorsig gesê KKA het ’n opwinden-de jaar beleef, met verskeie hoogtepunte.

KKA het in die boekjaar 2016/2017 met 17% gegroei teenoor 15% die vorige boekjaar. Met inagneming van die huidige ekonomiese klimaat, is dié prestasie bo verwagting, het hy gesê.

Hy het beklemtoon dat KKA, wat sy eerste boekjaar as ’n maatskappy agter die rug het, op die volgende fokus:
• Om uitmuntende kliëntediens te lewer. KKA het ’n lojaliteitsprogram in plek om kliënte vir goeie ondersteuning te beloon;
• KKA doen besigheid vanaf ’n lae kostestruktuur om prysmededingend te bly;
• Toekomsbeplanning. KKA het ’n goeie vyfjaarplan in plek.

Elke produsent en kliënt is vir KKA belangrik en is deel van KKA se sukses, het Du Plessis gesê.
David Malan, besturende direkteur van KKSP, het in sy oorsig gesê KKSP het die afgelope jaar die beste jaar in sy geskiedenis beleef. “Ons wins die afgelope boekjaar was groter as ons omset in 2010.”

Ondanks kleiner oppervlaktes onder saadproduksie het uitbetalings aan produsente verder toegeneem, hoofsaaklik danksy suksesvolle produksie in goeie toestande en veral die ervaring en toewyding van KKSP se produsente. Hy het ook positiewe verwagtinge oor die toekoms van die saadproduksiebedryf, het Malan gesê.

Saadproduksie is met die snelgroeiende wêreldbevolking van deurslaggewende belang vir voedselsekuriteit, het hy gesê.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2017. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?