Ergste droogte nog

Bo en onder: Die meer as 100 bale veevoer kom verlede week op die skouterrein in Prins Albert aan. Foto’s: Marlene Malan

Bo en onder: Die meer as 100 bale veevoer kom verlede week op die skouterrein in Prins Albert aan.  Foto’s:  Marlene Malan

8 PA Droogtehulp2

• Droogtehulp vir Prins Albert-boere

Deur Marlene Malan
IN die dertig jaar dat hy by Prins Albert boer, is dié droogte die ergste wat hy nog beleef het.

So vertel Samie Luttig van die plaas Drie Ri­viere, ná die aflewering van meer as honderd bale veevoer verlede week aan boere van die omge­wing. Dit is deel van die 50 ton voer wat die burgerregte-organisasie AfriForum, in samewerking met die Gautengse liefdadigheidsorganisasie Caring Daisies, die afgelope maand geskenk het aan boere in droogtegeteisterde dele van die Noord-, Oos- en Wes-Kaap.
Caring Daisies se veldtog, “Manna vir die boere”, samel voer in by dié wat genoeg het – grotendeels in die noorde van Suid-Afrika – en versprei dit dan na droogterampgebiede.

Die eerste voerskenking, by die begin van die veldtog vroeg verlede jaar, was van ’n Standerton­se boer. Die organisasie maak staat op borgskappe en samel geld in deur onder andere konserte deur meewerkende sangers. “Manna” is maar een van Caring Daisies se talle hulpprojekte aan mense in nood regoor die land.

Luttig vertel hy het in 1972 by Prins Albert begin boer. “Die ou mense het gesê hierdie groot droogtes kom elke dertig jaar. So was dit ook die jare dertig, in die depressiejare, daarna in die jare sestig, toe weer die jare negentig,” sê hy.

“En nou. In my leeftyd is hierdie een die grootste wat ek nog ervaar het. Dit het ’n groot uitwer­king op die gemeenskap. Almal kry swaar. Dit trek deur na die dorp, na besighede. Almal voel dit.”

Toe drie AfriForum-vragmotors dus verlede Don­derdag by die skouterrein op die dorp inry, nadat hulle twee dae vantevore op Delmas weggetrek het, was dit ’n emosionele oomblik vir die boe­re wat hulle ingewag het. Een van hulle, Jan-Chris Marais, het aan Guido Urlings, nasionale veldtogbeampte by AfriForum, en sy kollega, Anita Erasmus, gesê behalwe dat dit praktiese hulp is, skep die gebaar hoop, “omdat dit vir ons wys julle gee om. Dis wat maak dat ons aanhou boer.”

Afhangende van hul behoeftes, het elke boer tussen twee en ses bale veevoer gekry.

Volgens Urlings ervaar die Oos- en Wes-Kaap tans die ergste droogte in meer as 100 jaar. Die damme in die Wes-Kaap is gemiddeld 37,8% vol, met net 27,8% hiervan wat bruikbaar is.

Verlede jaar het AfriForum altesame 300 ton voer aan boere in nood geskenk. Die publiek kan betrokke raak deur hul naam na 38312 te sms. Elke sms sal ’n R10-bydrae tot AfriForum se droogtefonds lewer. Besoek ook www.noodfonds.co.za

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2017. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?