Droogte veroorsaak kleiner wyndruifoes

Foto: Calitzdorp Wynkelder

Foto: Calitzdorp Wynkelder

Liesel le Roux en Angelique Erasmus
DIE voortslepende droogte en die skade van haelbuie in die Klein Karoo het vanjaar tot ’n beduidend kleiner wyndruifoes by die wynkelders in die Calitzdorp-omgewing gelei.

Francois Viljoen, bestuurder van Vinpro se wingerdkonsultasiediens, het reeds in Januarie voorspel dat die 2018-wyndruifoes in die Wes-Kaap na verwagting die kleinste sedert 2005 gaan wees weens onder meer die droogte en verliese na ryp en hael.”
Hoewel daar egter vanjaar minder wyn by van die Klein Karoo se kelders ge­maak gaan word, glo die wynmakers dat die gehalte van die wyne uit die streek steeds baie hoog gaan wees.

Die Hoorn het met van die streek se wynmakers gesels om te hoor wat die invloed van die droogte by hulle was.
• Volgens Margaux Nel, wynmaker van Boplaas in Calitzdorp, is hul wyndruifoes 35% laer as die oes van verlede jaar, wat reeds laer as voorheen was.

Nel sê die kwaliteit van die druiwe wat hoofsaaklik vroeg gepluk is, was egter goed.

Om op te maak vir die kleiner oes, het Boplaas goeie kwaliteit druiwe aange­koop en sal hulle vanjaar genoeg wyne van goeie gehalte kan bottel om aan die markbehoefte te voorsien.

“Ons is egter wel bekommerd oor volgende jaar se oes,” sê Nel.

• Louis van der Riet, wynmaker van De Krans in Calitzdorp, sê die droogte het beslis ’n groot impak gehad.
“Die Gamkadam is reeds vanaf 2016 leeg, en dit het gelei tot ’n probleem met water. Die plase meer na die berg se kant toe is, het beter gevaar as ons.”

Van der Riet skat die afname in die wyndruifoes op tussen 30% en 40%

Hy sê die druiwekorrels is as gevolg van die droogte kleiner, maar dat die wyn van ’n beter kwaliteit is omdat dit meer gekonsentreerd is.

“Daar was ook geen siektes as gevolg van reën gewees nie en die pH-balans van die wyn is goed.”
Van der Riet sê van die wingerde het so swaar gekry as gevolg van die watertekort dat dit begin doodgaan het. Die blare het begin afval wat minder fotosintese tot gevolg gehad het met van die wingerdstokke wat begin ingee het.

• Danie van der Westhuizen, wynmaker van die Calitzdorp Wynkelder, sê behalwe vir die droogte het twee erge haelbuie ook ’n groot invloed op die wyndruifoes gehad.

Hy skat die afname op tussen 40% en 50%.

Volgens Van der Westhuizen sukkel hulle om druiwe te kry om aan te koop en gaan dit beslis die uitvoer van wyn beïnvloed en die wyne duurder maak.

“Die droogte het egter die kwaliteit van die druiwe verhoog.

“Ons witwyn se pH is baie laag en die kleurkonsentrasie is goed.

“Hierdie is egter ’n moeilike jaar om wyn te maak.”

• By Karusa wat in Schoemanshoek buite Oudtshoorn geleë is, was die invloed van die droogte nie so erg nie.
Karusa se wynmaker Jacques Conradie sê hulle het nie dieselfde waterprobleme as die Calitzdorp-wynkelders ervaar nie.

“Karusa se oesvolume is bykans dieselfde as die vorige jare, hoofsaaklik weens ’n kombinasie van vroegtydige voor­siening vir wateropgaarspasie, drup­besproeiingstegniek, grondvogmonitering en die gebruik van ’n ge­harde lae produksie/ hoë kwaliteit onderstok-kloon.”

Volgens hom fokus Karusa op kwaliteit eer­der as kwantiteit met se­we tot nege ton druiwe wat per hektaar bestuur word teenoor ’n Klein Karoo-gemiddeld van rondom 16 ton per hektaar. Dit het tot gevolg dat minder water per hektaar benodig word.

Ten opsigte van die wyne wat vanjaar ge­maak sal word, is Conradie baie positief.

“Soos die meeste jare was die groeiseisoen by Karusa uiters gunstig met minimale tot geen siektes en puik, gesonde druiwe wat gepluk is.

“Daar is reeds ’n aantal wit- en rosé-wyne ge­botteleer en die 2018-oesjaar beloof uiters aromatiese wyne.”

Log in with your credentials

Forgot your details?