Droogte in die kollig by Prins Albert Landbouskou

Deelnemers aan 'n kostuum-ruiterkunsvertoning by die Prins Albert Landbouskou het vir groot vermaak gesorg. Foto’s: Marlene Malan

Deelnemers aan ‘n kostuum-ruiterkunsvertoning by die Prins Albert Landbouskou het vir groot vermaak gesorg.
Foto’s: Marlene Malan

7 PA skou

Deur Marlene Malan
DROOGTE is net so ’n groot ramp as die verwoestende brand wat Knysna vroeër vanjaar getref het. Daarom moet boere net soveel aandag, hulp en bystand van die Wes-Kaapse regering kry as inwoners wat alles in die vlamme verloor het. So het Carl Opperman, uitvoerende hoof van Agri Wes-Kaap, verlede naweek by die vertonersonthaal tydens die jaarlikse Prins Albert Landbouskou gesê.

Volgens hom het hy onlangs indringende samesprekings met Alan Winde, Wes-Kaapse minister van ekono­miese geleenthede, gevoer. “Daar sal nooit weer genoeg water in die Wes-Kaap wees nie; nie solank ont­wikkeling nie aanpas by die waterskaarste nie,” het hy gesê. Wat reën, water­beskikbaarheid en droogte betref, “is ons besig met ’n ‘nuwe normaal’. Ons het te doen met uiterste weerpatrone en vernietigende ram­pe”.

Sy kritiek op die regering is dat dit lyk of hulle “geen plan het vir dié ‘nuwe normaal’ nie”. Waterskaarste veroorsaak gesondheids- en riolerings­pro­bleme; het ’n reuse negatiewe invloed op die ekonomie en ’n drastiese vermindering in werkgeleenthede. “Landbou Wes-Kaap het sedert 2014 die invloed van klimaats­verandering op die landbou bestudeer. Die feite is dat minder reën gáán val, dat daar ’n toename in droogtes gaan wees en ’n afname in produksie. Daar gaan ’n gemiddelde verhoging van temperature wees, en ’n toename in vloede en hul intensiteit. Dit bring ’n groter brandrisiko.”

Saam met die voëlgriep “waarmee die boere nou stoei, gaan die armstes die hardste geslaan word. Dis die klein produsente wat die swaarste kry. Ek het die regering gevra: ‘Besef die owerheid en die verbruiker die belangrikheid van landbou?’ Want niemand, niks kan voortgaan sonder die landbou nie. Dis in die landbou waar daar vrede en langtermyn- ekonomiese ontwikkeling lê.”

Madri Rossouw, voorsitter van die skoukomitee, het gesê vanjaar se landbou­skou het voortgegaan ondanks die droogte, maar as ’n gebaar van hoop. “Ons glo die reën kom spoedig, en daarom het ons die skou positief benader. Met dié tentoonstelling wil ons boere moed inpraat.”

Dr Sue Milton-Dean, botanikus en ekologie-deskundige, het tydens ’n aanbieding oor die uitwerking van die droog­te op die landbou, die boer en sy psige, vertel hoe die natuurlike plantegroei in die Prins Albert-gebied sedert 2016 verdor het. Volgens Dean het die gemiddelde minimum-temperatuur die afgelope sowat 30 jaar van 9,2 tot 11,2 grade C gestyg, en die gemiddelde maksimumtemperatuur van 24,5 tot 26,4. “Die norme van die moderne lewe – die mens se getalle en verbruikspatrone – dra in ’n groot mate hiertoe by. Ons vernietig plantegroei om minerale te kry. Ons gooi al hoe meer gemors weg, ons stroop ons na­tuurlike hulpbronne, ons besoedel ons riviere en die atmosfeer.”

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2017. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?