Droogte bring nood

Doogte in Herold.           Foto verskaf

Doogte in Herold. Foto verskaf

Deur Tisha Steyn
BOERE in die bedieningsgebied van die Herold Landbouvereniging is diep in die nood weens die voortslepende droogte.

“Die situasie is besig om hand uit te ruk omdat boere nie meer voer of water het nie,” sê Weeber Truter, wat saam met die bestuur van dié vereni­ging die Help Herold-boere in Nood-aksie geloods het om fondse in te samel om die boere van ondergang te probeer red.

“Die damme is leeg en die boorgate lewer nou­liks genoeg water vir veesuipings. Daar is geen na­tuurlike weiding oor nie, en die gebied se voer­- produksie het die afgelope twee jaar weens die droogte misluk. Die boere het dringend voer en drinkwater nodig.”

Die droogte is vererger deur bogemid­del­de temperature en ondergemiddelde reënval die afgelope nege maande. Slegs 44,5 mm reën het die afgelope ses maande geval, vergeleke met 130,5 mm in die ooreenstemmende tyd verlede jaar. Vanjaar se droog­te volg op baie lae reënval in Oktober (8 mm), November (13 mm) en Desember (6 mm).

Die boere het reeds hul veekuddes verminder sodat net kernkuddes oorbly. Tans is daar sowat 24 650 stuks vee in die gebied, waarvan 1 598 reeds weens die droog­te gevrek het. Nog 6 784 is by Herold se veilinglokaal verkoop.

“Indien die krisis verder uitkring, sal dit boere noop om hul plase te verkoop, en as dit gebeur, sal werkers ook sonder ’n inkomste of heenkome sit. As landbou faal, sal dit ook die besighede op dorpe wat deur die boere ondersteun word, raak.”

Ten einde die boere te help voordat dit te laat is, beplan Help Herold-boere in Nood ’n dinee vir sakelui op 27 Julie 2017 by Oppie Plaas Venue in Waboomskraal. Omri van Zyl, uitvoerende bestuur­der van Agri SA, en Ollie le Roux, voormalige Springbok-rugbyspeler, is die twee hoofsprekers. Le Roux, wat naby Bloemfontein boer, het reeds talle vragte voer aan Herold geskenk.

Die meeste van die 25 tafels (met sitplek vir 10 persone) wat teen R10 000 vir sakeondernemings aangebied word, is reeds verkoop. Individue wat die dinee wil bywoon, kan kaartjies teen R1 000 per persoon koop. Die fondse wat ingesamel word, sal gebruik word om voer wat oor die hele land geskenk word, na Herold te vervoer, en om boere te help om voer te koop.

Bespreek ’n tafel by Dean Barnard (072 996 1668) of dean@oppieplaasvenue.co. za. Doen ’n aanlyn-oorbetaling by Nedbank: Herold Boere­vereniging; Rekeningnommer: 1626010021; Tak: 162 645.
Stuur sms-bevestiging van inbetaling na Patrys Erasmus by 079 101 8259.

Vir meer inligting kontak Weeber Truter (082 566 2070) of Christoph Strydom (082 633 1488) of besoek Help Herold-boere in Nood op Facebook.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2017. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?