Diep spore getrap in bedryf

Daar is verlede Woensdagaand afskeid geneem van Derick Engelbrecht, administrateur van die Nasionale Luserntrust. Saam met hom is Sunet Vermeulen-Fenthum wat hom opvolg.

Daar is verlede Woensdagaand afskeid geneem van Derick Engelbrecht, administrateur van die Nasionale Luserntrust. Saam met hom is Sunet Vermeulen-Fenthum wat hom opvolg.

Deur Schalk le Roux
DIE administrateur van die Nasionale Lusern Trust (NLT), Derick Engelbrecht, het diep spore in die Suid-Afrikaanse lusernbedryf getrap, en hy het deur sy opregtheid en werklike belangstelling in elke liewe mens wat oor sy pad gekom het, respek en erkenning in die landboubedryf ontvang.

Só het Sunet Vermeulen-Fenthum verlede Woensdagaand tydens Engelbrecht se afskeid in die Queen’s Hotel op Oudtshoorn gesê.

Engelbrecht, ’n boorling en welbekende inwo-ner van Oudtshoorn, tree einde vanjaar af ná 32 jaar in diens van die NLT.

Sy afskeid is bygewoon deur onder andere trustees, kollegas, en familie en vriende.
Vermeulen-Fenthum wat reeds by die Nasionale Lusern Trust aangesluit het, volg Engelbrecht as administrateur op.

Engelbrecht het in 1986 by die NLT (toe nog die Lusernsaadraad) begin werk en in 1990 by Louis Viviers as bestuurder oorgeneem. Die NLT sien om na die belange van lusernboere landwyd. Des­tyds was daar vir al die landbouprodukte statutêre rade wat die bedryf beheer het, soos die Lusernsaadraad wat die lusernsaadbedryf beheer het.

Engelbrecht vertel hy het toe hierdie rade in 1996 verval het “letterlik soos ’n voël op ’n tak gevoel. Die hele dinamika van die landboubedryf het verander. Die landbou moes nou in die vryemark meeding wat groot onsekerheid en uitda­gings meegebring het.

“Die Lusernsaadraad het nie meer statutêre magte gehad en ’n vrywillige organi-sasie geraak wat nie meer deur die staat gefinansier word nie. Ons moes herbesin oor die rol wat ons in die toekoms gaan speel,” vertel hy.

In daardie stadium het die NLT voortgegaan met navorsing en skake-ling tussen lusernboere en die nasio-nale departement van landbou. Daar was egter finansiële onsekerheid oor die toekoms van die raad aangesien boere vrywillig by die NLT kon aan-sluit. Intussen, in 2001, het die lusernhooibedryf ook onder die toesig van die NLT beland aangesien dié bedryf ietwat in chaos was.

Engelbrecht het in 2001 voor die grootste uitdaging van sy loopbaan te staan gekom toe hy vir ’n vergade­ring Upington toe ontbied is.

Hy vertel die lusernhooiboere was omgekrap en het antwoorde gesoek. ’n Lusernboer in sy vroeë tagtigs het opgestaan en vertel dat sy familie al geslagte op hul plaas boer en top gehalte lusernhooi produseer, maar geen prysvoor­deel vir hul goeie gehalte kry nie.

Engelbrecht het toe onderneem om die probleem uit te sorteer.

In daardie stadium was daar nie ’n eenvormige stelsel vir die akkurate bepaling van die gehalte en die gra-dering van lusernhooi in Suid-Afrika ten opsigte van die samestelling en voe­dingswaarde daarvan nie.

Die NLT het toe in samewerking met wyle prof Hentie van der Merwe en dr Gerrie Scholtz van die Universiteit Vrystaat ’n nasionale grade-rings- en kwaliteitstelsel ontwikkel en suksesvol geïmplementeer.

Hulle het die gebruik van ’n Nabye Infrarooi Spektrometer (NIR-instrumente) aanbeveel wat die NLT se eie lusernkalibrasie op het.

Met die instrument kon ’n baie noukeurige samestelling van lusernhooi verkry word met inligting oor die persentasie proteïen en ander parameters wat vir die voer- en melk-bedryf van belang is.

“Sodoende kon ’n prys vir lusernhooi bepaal word wat gegrond is op die kwaliteit daarvan en kon lusernboere ’n hoër prys vir beter kwaliteit lusern kry,” het Engelbrecht gesê.

“As ek ’n hoogtepunt in my loopbaan moet uitsonder, is dit dié stel-sel,” het hy bygevoeg.

“Dit het ’n totale omwenteling in die hele lusernhooibedryf teweeg gebring het. Daar is vandag 32 NIR-instrumente in Suid-Afrika met die NLT se kalibrasie daarop.

“Dié ontwikkeling het daartoe by-gedra dat 100000 ton se primagraad lusernhooi reeds na Saoedi-Arabië uitgevoer is.

“Ons verwag ook dat daar binne-kort groot hoeveelhede lusernhooi na China uitgevoer gaan word.”

Nog ’n hoogtepunt vir Engelbrecht was die ont­wikkeling van die SA Select-lusernvariëteit deur die Landbounavorsingsraad op versoek van die NLT. Die versoek het gevolg op ’n luisplaag wat die lusernbedryf wêreldwyd gekniehalter het.

SA Select is grootliks teen luise en swaar beweiding bestand. Die NLT is die eienaar en lisensiehouer van die planttelersregte van SA Select. SA Select is geteël uit SA Standaard. Dié twee variëteite is die enigste twee Suid-Afrikaanse variëteite uit 24 op die SA Variëteitslys.

• Vermeulen-Fenthum, wat op Oudtshoorn grootgeword en hier ge-matrikuleer het, het die graad BSc Plantkunde aan die Universiteit Vry­staat verwerf. Daarna het sy ’n Honneursgraad in Ekologie en ’n

MSc-graad in Weidingkunde verwerf. Sy is tans besig met haar doktorsgraad (PhD).

Sy het van 2007 tot 2009 by die Outeniqua Navorsingsplaas van die Wes-Kaapse departement van Landbou gewerk. Van daar is sy na Klein Karoo Saadbemarking waar sy ’n navorsingspesialis was totdat sy by die NLT aangesluit het.

Vermeulen-Fenthum sê dit is vir haar ’n “ongelooflike voorreg om deel van dié bedryf te wees.
“Ek weet ek het letterlik en figuurlik groot skoene om te vul.”

Sy het namens die lusernbedryf vir Engelbrecht bedank vir sy “geweldige bydrae en nalatenskap. Dit is iets om trots op te wees”.

By die afskeidsonthaal van Derick Engelbrecht, uittredende administrateur van die Nasionale Lusern Trust (NTL), verlede Woensdagaand was van links Joey Potgieter, nuwe ondervoorsitter van die Lusern Trust se Raad van Trustees, Albrecht Swiegers, uittredende ondervoorsitter, Boetie Potgieter, uittredende voorsitter, Engelbrecht, David Malan, nuwe voorsitter en besturende direkteur van Klein Karoo Saadproduksie, dr Gerrie Scholtz, NLT-konsutant, Jacobus Maloney, Riaan Roselt, trustee, en Alewyn Schlebusch, trustee. Voor is me Mina Gill, ministeriële verteenwoordiger (NLBR) op die trust.

By die afskeidsonthaal van Derick Engelbrecht, uittredende administrateur van die Nasionale Lusern Trust (NTL), verlede Woensdagaand was van links Joey Potgieter, nuwe ondervoorsitter van die Lusern Trust se Raad van Trustees, Albrecht Swiegers, uittredende ondervoorsitter, Boetie Potgieter, uittredende voorsitter, Engelbrecht, David Malan, nuwe voorsitter en besturende direkteur van Klein Karoo Saadproduksie, dr Gerrie Scholtz, NLT-konsutant, Jacobus Maloney, Riaan Roselt, trustee, en Alewyn Schlebusch, trustee. Voor is me Mina Gill, ministeriële verteenwoordiger (NLBR) op die trust.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2017. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?