De Rustica een van 10 ‘bestes onder bestes’

Joop Steenkamp van De Rustica met die gesogte Absa Top 10-toekenning.  Foto verskaf

Joop Steenkamp van De Rustica met die gesogte Absa Top 10-toekenning.
Foto verskaf

DE RUSTICA ESTATE buite De Rust het sy posisie as een van Suid-Afrika se voorste olyfprodusente be­ves­tig toe sy Estate Collection Co­ratina verlede week aangewys is as een van die land se Absa Top 10-olyf­olies.

’n Paneel van olyfoliekundiges het nagenoeg 90 plaaslik vervaardigde olyfolies van die 2017-oes tydens ’n streng en gekontroleerde blinde proe beoordeel. Die paneelleier was die in­ternasionale olyfoliespesialis en sen­soriese wetenskaplike van Kali­for­nië, Sue Langstaff. “Mense vra dikwels wat ’n uitstaande olyfolie van ’n goeie olyfolie onderskei. Die antwoord is ideale vlakke van balans, kompleksiteit, harmonie en vars­heid,” verduidelik sy.

De Rustica is ook einde Augustus by die 2017 SA Olyftoekennings met drie goue medaljes bekroon, die enigste olyfolieprodusent in Suid-Afrika wat dié prestasie kon behaal.

Volgens Nick Wilson, voorsitter van SA Olive, die nasionale olyfver­eniging, is die Absa Top 10 wêreldklas en die “bestes van die bestes”.

• Om ’n verskaffer te wees van top­gehalte olyfolie was van die begin af die toekomsvisie van Rob Still, voorsitter en hoofbelegger van De Rustica.

Hy het by ’n informele geleentheid wat in Mei 2012 gehou is om by die die pars van De Rustica se eerste olyf­olie te vier, gesê hy glo dat die Klein Karoo tot ’n verskaffer van topgehalte olyfolie aan die wêreld kan ontwikkel.

Still het die aand vertel dat hy dié projek geïnisieer het om iets terug te gee aan die land en werk te skep. Verskeie streke in die land is geëva­lueer vir ’n projek waar op groot skaal olywe aangeplant kon word om in groot maat hoëgehalte-olyfolie vir uitvoer te produseer. Dié navorsing het getoon dat sekere berghange in die Klein Karoo die optimale terroir vir olyfproduksie was.

Hy het ook gesê dat hy glo dat die olyf­oliebedryf ’n beduidende bydrae tot die streek se ekonomie kan lewer en op groot skaal werk kan skep.

Hy het ook gesê: “Ek glo daar is geen rede waarom daar nie oor minder as 30 jaar ’n volhoubare en belang­rike olyfbedryf teen sekere hange van die Swartberge en Outeniquaberge gevestig kan wees nie.

“As ons almal in vrede, voorspoed en harmonie wil leef, is dit essensieel dat uitdagings soos hierdie oraloor die land deur ons, sy mense, aangepak moet word en dat dit nou gedoen moet word.”

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2017. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?