De Kranswyne in SA Hall of Fame

DIE privaatkelder De Krans by Calitzdorp het pas by die South African Wine & Cellar Classifications erkenning gekry vir die gehalte van sy wyne.

Drie van sy portwyne, Cape Tawny NV, Cape Vintage en Cape Vintage Reserve, is onder die Top 10-lys van Kaapse portwyne geplaas.

De Krans se Cape Vintage Reserve, wat oor die afgelope tien jaar erkenning gekry het as een van die land se suksesvolste wyne, is met ’n plek in die Top Wine SA Hall of Fame gehuldig.

Die South African Wine & Cellar Classifications huldig die land se voorste wynmakerye, dié wat gereeld presteer en wie se produkte jaar ná jaar die hoogste sport bereik. Die klassifikasie is gegrond op die uitslae van 28 plaaslike en internasionale forums vir die bepaling van gehalte en belangstelling oor die afgelope tien jaar.

Om in aanmerking te kom vir die klassifikasie, wat sedert 2004 jaarliks aangepas word, moet wyne van die Kaap baie goed tot uitstekend vaar by minstens een van die top beoordelaarspanele oor minstens drie oesjare tydens die tienjaartydperk van toepassing.

Die getal oesjare wat die hoogste lof verdien en die soort toekennings bepaal die Top 10- en Top 20-klassifikasie.

Die tydperk wat beoordeel is vir die 2017-klassifikasie is van 2007 tot en met 2016.

Die beoordelaars sluit onder meer kenners in wat vir die Decanter World Wine Awards die International Wine Challenge, die International Wine & Spirit Competition (IWSC), die Michelangelo-wynskou, die Platters-wyngids, die Six Nations Challenge, die SA Trophy Wine Show en die Veritas-kompetisie aan-gewys is.

“Om deur hierdie gesiene paneel gehuldig te word is ’n baie groot eer,” sê Boets Nel, mede-eienaar van De Krans.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2017. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?