Bekende saadman oorlede

’n Onlangse foto van oom Johan van der Westhuizen saam met sy seuns (van links), Okkie, JP en Henry en sy dogter ­Rianna Terblanche.

’n Onlangse foto van oom Johan van der Westhuizen saam met sy seuns (van links), Okkie, JP en Henry en sy dogter ­Rianna Terblanche.

’N BEKENDE in landboukringe op Oudtshoorn en De Rust, Johan van der Westhuizen, is Sondagaand in die Mediclinic Klein Karoo in die ouderdom van 89 oorlede nadat hy ’n week tevore opgeneem is weens ’n beroerte en hartaanval.

Hy het met volstruise en groentesaad geboer en later ook JW Saad begin wat vandag nog suksesvol deur sy seuns bedryf word.

Van der Westhuizen, wat op 30 November 1927 op die plaas Rooirivier tussen De Rust en Uniondale gebore is, het ná skool saam met sy pa begin boer.

Hy het ’n Allis Chamer- trekker gehuur en oral op lappies grond koring gesaai. Hy het ook lusern wat in miedens gepak was by boere gekoop en in sakke gemaal om dit weer te verkoop.

Dit het hom in staat gestel om in 1954 grond langs sy pa se plaas te koop. Van 1975 tot 1985 het hy nog aangrensende grond op Rooirivier gekoop asook die aangrensende plase Diepkloof en Aangenaam.

Sy seuns, Okkie, JP en Henry het mettertyd saam met hom op die onderskeie plase begin boer.

Volgens sy seuns was Van der Westhuizen baie streng met hulle en almal wat vir hom ge­werk het, maar hy was ook iemand wat sy kinders, skoonkinders, kleinkinders en vriende se belange op die hart gedra het.

Dit was ook sy lewensbegeerte om ’n onderneming te begin om saam met sy seuns te bedryf. Met sanksies teen Suid-Afrika en die binnelandse mark vir groentesaad wat nie baie groot was nie, het dit harde werk en toewyding geverg om vordering in die bedryf te behaal.

Van der Westhuizen het egter al wat saadhandelaar in die land was, besoek en beding vir goeie kontrakte. So het die handel in groentesaad ontstaan. Hy het toe ook begin om aan sy mede-boere saadkontrakte vir hoofsaaklik uie-, beet-, wortel- en radyssaad te bied.

Nadat hy vroeër al begin het om saadkontrakte by saadhandelaars te kry, het Van der Westhuizen in 1996 onder die naam JW Saad begin sake doen.
Met die politieke situasie wat in Suid-Afrika verander het, het saaduitvoere makliker geraak en het die onderneming gegroei.

Hoewel Van der Westhuizen in 1998 in die Oudtshoorn Aftree-oord gaan woon het, het hy nog ’n groot belangstelling in sy seuns se boerdery en die besigheid gehad.

• Van der Westhuizen se vrou, Sannie, is in Junie 2011 oorlede.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2017. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?