Aardverwarming is ’n feit!

Belanghebbendes by die Agri Wes-Kaapkongres wat verlede Donderdag op Oudtshoorn plaasgevind het, was van links Joey Potgieter, voorsitter: Agri Klein Karoo, Johan Bothma  hoofbestuurder van Agri Wes-Kaap, Carl Opperman, uittredende hoof- uitvoerende beampte van Agri Wes-Kaap, dr Peter Johnston, klimatoloog van die Universiteit Kaapstad, Jeanne Boshoff, korporatiewe mediabestuurder van Agri Wes-Kaap, Laubscher Coetzee, Agri Klein Karoo se verteenwoordiger by Agri Wes-Kaap, en Cornie Swart, uittredende president van Agri Wes-Kaap. Agter is Hugo de Waal, vise-president van Agri Wes-Kaap.

Belanghebbendes by die Agri Wes-Kaapkongres wat verlede Donderdag op Oudtshoorn plaasgevind het, was van links Joey Potgieter, voorsitter: Agri Klein Karoo, Johan Bothma hoofbestuurder van Agri Wes-Kaap, Carl Opperman, uittredende hoof- uitvoerende beampte van Agri Wes-Kaap, dr Peter Johnston, klimatoloog van die Universiteit Kaapstad, Jeanne Boshoff, korporatiewe mediabestuurder van Agri Wes-Kaap, Laubscher Coetzee, Agri Klein Karoo se verteenwoordiger by Agri Wes-Kaap, en Cornie Swart, uittredende president van Agri Wes-Kaap. Agter is Hugo de Waal, vise-president van Agri Wes-Kaap.

OPNAMES wat van die jaar 1900 tot 2000 gedoen is, toon aan dat die aarde se gemiddelde tempe­ratuur in dié tyd met sowat 1 graad C gestyg het, het dr Peter Johnston, klimatoloog van die Universiteit van Kaapstad, verlede Donderdag by Agri Wes-Kaap se streekskongres op Oudtshoorn gesê. Johnston het gepraat oor aardverwarming, kli­maats- verandering en die invloed daarvan op die landbou.

Tientalle modelle oor klimaatvooruitskatting wat deur klimatoloë gedoen is, toon aan dat die temperatuur teen die einde van die huidige eeu met tussen 3 en 5 oC gaan styg, het Jonhston aan die hand van tientalle grafieke aangetoon.

Hy het verwys na ’n berig in 1912 in die wetenskapsafdeling van ’n Nieu-Seelandse koerant waarin aardverwarming voorspel word weens die verbranding van groot hoeveelhede steelkool op aarde. Destyds is 7000000000 ton koolsuurgas jaarliks in die atmosfeer vrygestel wat bydrae om ’n kombers om die aarde te vorm. Die uitwerking ­hiervan op die aarde se temperatuur sal oor enkele eeue aansienlik wees, is in die berig voorspel.

Een van die grafieke wat Johnston getoon het, dui aan dat die mensdom se aktiwiteite beduidend tot aardverwarming bydra.
Volgens aangetekende rekords het 14 van die 15 warmste jare oor die afgelope 134 jaar op aarde ná 2000 voorgekom. Die jare 2016, 2015 en 2005 was in hierdie tydperk die drie warmste jare op aarde, het Johnston gesê.

Volgens grafieke wat hy getoon het, was daar van 1974 tot 2005 ook ’n duidelik waarneembare temperatuurstyging in die Wes-Kaap.

Die warmste temperatuur wat nog op aarde in die maand Oktober aangeteken is, was op Dinsdag, 27 Oktober 2015, toe die kwik op Vredendal tot 48,4 grade C gestyg het. Dit is die hoogste tempe­ratuur wat nog op Vredendal gemeet is en die derde hoogste temperatuur nog in Suid-Afrika.

Johnston het ook lig gewerp op die impak van toenemende klimaatsverandering op landbou wat van reën afhanklik is en baie mense se lewensbestaan. Dit hou ’n besliste bedreiging vir die bevolking in met hongersnood en ondervoeding wat kan toeneem.

Die impak van hoër temperature op landbou is:
• Meer besproeiing sal benodig word;
• Grondvog sal afneem weens toenemende verdamping;
• Uitdroging van grond sal toeneem;
• Skade aan oeste sal toeneem; en
• Dit sal lewende hawe negatief beïnvloed.

Aardverwarming beïnvloed ook groter uiterstes in reënval en temperature en die voorkoms van droogtes en hael, het hy gesê.
Oorwegings wat landbouprodusente in gedagte sal moet hou, sluit in:

• Die herwinning van afval en die vermindering van metaangas wat deur lewendehaweboerdery meegebring word;
• Bewaringsgeörienteerde landboumetodes;
• Vrylopende (free range) lewende hawe;
• Meer doeltreffende besproeiingsmetodes;
• Beskerming teen son en wind;
• Doeltreffende bemesting en vervoer;
• Voorkoming van oorbeweiding en strewe na die beste voedingsmetodes; en
• Toepassing van volhoubare produksiemetodes.

Volgens Johnston het die verbruik van vleis oor die afgelope 35 jaar die jaarlikse per capita-verbruik van vleis in ontwikkelende lande laat toeneem van 11 kg tot 29 kg. Al die beeste en skape op die aarde laat gasse in die atmosfeer vry wat gelykstaande is aan twee miljard (two billion) ton koolsuurgas per jaar in die atmosfeer.

Die mensdom sal dus ook minder vleis moet eet.

Volgens Johnston is klimaatverandering ’n bydraende stresfaktor bykomend tot armoede, oorbevolking, hulpbron-degradasie, watertekorte, man- nekragprobleme, grondhervorming en nog meer.

• Joey Potgieter, voorsitter van Agri Klein Karoo, het tydens die kongres ’n besprekingspunt voorgestel oor ’n alternatiewe benadering ten opsigte van grondhervorming.

Vir enige boerdery om suksesvol te wees, is grond (ligging en gehalte), noodsaaklike produksiemiddele (waarvan water die belangrikste), kennis en vaardigheid, markte en bedryfskapitaal en toerusting nodig, het hy gesê.

“Die staat kan grondhervorming regkry deur water na ’n gebied te bring waar die nodige infrastruktuur reeds bestaan, maar wateronsekerheid heers soos in die Klein Karoo.”

Sy besprekingspunt lui voorts:
Die staat verskaf die water en kry die volgende:
• Grondeienaars verskaf 24% van hul grond aan hul werkers in ’n trust;
• Kundigheid van die eienaar en die werkers bestaan reeds;
• Die markte bestaan reeds en kan verder ontwikkel word;
• Die eienaar se produksiemiddele (trekkers en toerusting) kan teen ’n tarief gebruik word;
• Werkloosheid word aangespreek, want meer mense sal werk kry op primêre vlak asook in die sekondêre landbou (verwerkingsbesighede).

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2018. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?