Agri Wes-Kaap vra boere om meer betrokke te raak

Onder diegene by die Agri Wes-Kaap (AWK) se streekkongres by Oudtshoorn was van links Johan Bothma, hoofbestuurder: AWK, Carl Opperman, uitvoerende hoof: Agri SA, Laubscher Coetzee, streekverteenwoordiger: Agri Klein Karoo, Cornie Swart, president van AWK, en Jeanne Boshoff, kommunikasiebestuurder van AWK.

Onder diegene by die Agri Wes-Kaap (AWK) se streekkongres by Oudtshoorn was van links Johan Bothma, hoofbestuurder: AWK, Carl Opperman, uitvoerende hoof: Agri SA, Laubscher Coetzee, streekverteenwoordiger: Agri Klein Karoo, Cornie Swart, president van AWK, en Jeanne Boshoff, kommunikasiebestuurder van AWK.

BAIE boere, veral die jonger garde, se onbetrok-kenheid by Agri Klein Karoo is herhaaldelik genoem tydens Agri Wes-Kaap se streekkongres wat Dinsdag, 28 Februarie, by die Oudtshoorn Proefplaas buite Oudtshoorn gehou is.

Cornie Swart, president van Agri Wes-Kaap, het gesê deur deel van die georganiseerde landbou te raak, raak boere deel van die oplossing, en nie deel van die probleem nie.

Boere van die Klein Karoo wat by Agri Klein Karoo aansluit is outomaties deel van Agri Wes-Kaap wat weer deel van Agri SA is.

“Boere moet ophou om negatief te wees oor die georganiseerde landbou, en nie vra wat kan Agri vir my doen nie, maar wat kan ek vir Agri doen.

“As jy in die toekoms wil boer, gaan jou lidmaatskap van Agri Wes-Kaap ononderhandelbaar raak. Verdeelheid onder boere skep net vatplek vir diegene wat die landbou teiken,” het Swart gesê.
Laubscher Coetzee, streeksverteenwoordiger van Agri Klein Karoo, het gesê Agri Wes-Kaap se streekkongresse skep die platform vir elke lid van Agri Klein Karoo om sy stem te laat hoor waar dit gehoor moet word.

“Georganiseerde landbou kan ons produsente se probleme op ’n hoër vlak stel om die nodige aandag te kry.”

Coetzee het gesê sy waarneming is dat boere se betrokkenheid by georganiseerde landbou taan.
Die betekenis en waarde van Agri SA word tot op grondvlak bevraagteken.

In die lig daarvan dat die beeld van blanke kommersiële boere aanhoudend aangeval word, is dit nodig dat die kollig geplaas word op die boer se positiewe bydrae tot die samelewing.

Die nodigheid en behoefte “om te behoort aan” en saam te werk bestaan klaarblyklik nie meer onder veral die jonger geslag nie,

Coetzee het voorts gesê dit is bemoedigend dat private maatskappye toetree tot die uitbou van landbou se positiewe beeld. “Dit mag wees omdat hulle by primêre landbou baat. Dit is egter vir my tragies dat hulle die holistiese waarde van landbou beter verstaan as die onbetrokke boer wat net kan kla deur te vertel hoe waardeloos georganiseerde landbou kwansuis sou wees,” het hy gesê.
Ten opsigte van ledegeld het Coetzee gesê moet boere hulself afvra: “Wat is my eiendom, waarop ek ’n lewe maak, in verhouding tot ledegeld?”

Hy het beklemtoon dat georganiseerde landbou op talle forums vir elke kommersiële boer intree en as buffer optree.

Hulle onderhandel oor onder meer eiendomsbelasting, droogtehulp, handel- en tariefbeleid, ramp-hulpbestuur, arbeidsinspeksies, plaaswerkerontwikkeling, minimumloon, grondhervorming, waterbeleid en wetgewing, sektorpolisëring en beeldbou, het Coetzee gesê.

Ter afsluiting het hy verwys na CJ Langenhoven se aanhaling oor veilings: ’n Mens bie in die begin omdat jy die artikel wil hê. Naderhand bie jy omdat die ander hom wil hê.

“Meneer die onbetrokke boer, die dag dat jy weer bie, omdat die ander hom wil hê, stop, besin, betaal eerder ledegeld en groei deur deel van die groter prentjie te raak. Suid-Afrikaanse landbou het jou en elke oorblywende kommersiële boer broodnodig,” het hy gesê.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2017. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?