Anita leef droom uit op Oudtshoorn

Anita Pickard - eienaar van De Oude Kat in Baron van Reedestraat.

Anita Pickard – eienaar van De Oude Kat in Baron van Reedestraat.

“EK lewe my droom uit,” sê Anita Pickard, eienaar van De Oude Kat in Baron van Reedestraat op Oudtshoorn.

Pickard is opgelei as ’n besigheidsanalis, maar dit is nie haar passie nie. “Ek hou van mense. Ek hou daarvan om kreatief te wees. Al is ek nog net vier maande hier, voel ek dat ek hier op Oudtshoorn my drome kan laat waar word.”

Sy kom oorspronklik van Welkom, waar sy vir 42 jaar gewoon het.
“Daarna het ek agt jaar lank in Randfontein gewoon. Toe besluit ek en my man, wat oorspronklik van Prieska afkomstig is, om op Oudtshoorn te kom aftree.”

Die personeel by De Oude Kat vorm ’n baie hegte span.
“Ons sien nie kleur raak nie. Ons glo daarin om mense wat geval het, weer op te help en by te staan om iets van hulself te maak. Ons glo in dié gesegde: pay it forward.

“Ons hou nie van negatiwiteit nie. ’n Mens moet altyd probeer om die positiewe raak te sien,” sê Anita.
Twee van die kelners, Ruduwaan Sadan en Hilariah de Villiers, vertel dat hulle baie lekker werk. Hilariah is opgelei in kinderontwikkeling en is ook deel van Pickard se inisiatief – die Opi Werf-speelparkie. “Ons almal verstaan mekaar en met Anita se hulp leer ek baie hier.”
Ruduwaan is ook baie tevrede waar hy is.

“Ek het ’n liefde vir kosmaak ontwikkel wat ek nie voorheen gehad het nie. Dit is awesome om hier te werk. Ek geniet my werk ook omdat ek nie net ’n kelner is nie. Anita gee ons kans om iets van alles te leer.”

Anita vertel dat sy baie planne vir De Oude Kat het. “Ons maak iets van alles, maar ek wil graag fokus op tuisgemaakte boerekos. Ons glo in waarde vir geld. Ons wil dus lekker borde kos maak teen billike pryse. By Opi Werf kan mense hul kinders bring vir nasorg gedurende die week, asook Saterdae terwyl ouers inkopies wil doen. Vir die juniors (tot en met nege jaar) help ons met huiswerk en vir die seniors gaan ons internettoegang bied sodat hulle inligting vir take kan kry.

“Ons verskaf ook gesonde, gebalanseerde etes. Ons beplan voorts ’n kosblik-inisiatief, waar gebalanseerde etes maandeliks aan skoolkinders verskaf sal word teen ’n bepaalde bedrag.
“Ons wil ook aflewerings begin doen. Daar is baie planne vir die retaurant en speelparkie. Ons sit nie stil nie!”

Lesers kan Die Hoorn dophou vir inligting oor hul toekomsplanne.

Layout 1

Log in with your credentials

Forgot your details?