Rhodé lê tuig neer by feeste

Rhodé Snyman (regs), uitvoerende hoof van Kunste Onbeperk en die voorsitter van Kunste Onbeperk, Crispin Sonn, Dinsdag by die alge­mene jaarvergade­ring. Foto: Schalk le Roux

Rhodé Snyman (regs), uitvoerende hoof van Kunste Onbeperk en die voorsitter van Kunste Onbeperk, Crispin Sonn, Dinsdag by die alge­mene jaarvergade­ring. Foto: Schalk le Roux

Deur Liesel le Roux
DIE uitvoerende hoof van Kunste Onbeperk, die maatskappy wat die KKNK en Klein Karoo Klassique aanbied, Rhodé Snyman, sal nog net tot na volgende jaar se KKNK betrokke wees by Oudts­hoorn se feeste.

Die voorsitter van Kunste Onbeperk, Cripin Sonn, het Dinsdagoggend tydens die algemene jaar­vergadering van Kunste Onbeperk bekend gemaak dat Snyman haar bedanking ingedien het. Snyman, wat 25 jaar gelede by die KKNK betrokke geraak het, sal aanbly tot na volgende jaar se KKNK.
Snyman is ’n boorling van die Klein Karoo wat haar laerskoolopleiding op De Rust en hoër­skoolop­leiding op Oudtshoorn voltooi het.

Sy was ’n stigterslid van die KKNK en sedert die eerste fees in 1995 deeltyds betrokke. In 1996 is sy aangestel as assistent van die eerste hoof- uitvoerende beampte, Pieter Fourie, en eerste feesdirekteur, Karen Meiring. Sy was die fees se eerste media-skakelpersoon en is daarna bevorder tot bemarkingsbestuurder, toe tot korporatiewe bestuurder en later tot bedryfshoof. Sy het na Brett Pyper se vertrek in 2014 as uitvoerende hoof in sy plek waargeneem en is in Mei 2015 aangestel as uitvoe­rende hoof van Kunste Onbeperk.

Oor haar betrokkenheid in die beginjare van die KKNK vertel Snyman soos volg: “Ek het vir Nic Barrow in 1993 gehelp met die uitnodigings aan rolspelers vir die openbare vergadering op Oudts­hoorn in Januarie 1994. Hierdie vergadering is waar Andrew Marais ’n tjek namens Nasionale Pers aan die voorgenome fees oorhandig het. Ek was lid van Jans Rautenbach se programkomitee en later in 1994, toe Karen Meiring deur Pieter Fourie as feesbestuurder aangestel is, het ek betrokke geraak as mediabeampte en administra­tiewe assitent – aanvanklik op ’n vryskutbasis. Ek het ’n voltydse betrekking by die KKNK aanvaar in 1996 na afloop van die tweede fees.”

Snyman sê die passie waarmee die KKNK jaarliks beplan en tot uitvoering gebring word, is iets wat deur die jare nooit verander het nie.

“Dit is opwindend dat die portefeulje van projek­te kon vergroot en Klein Karoo Klassique en die Teksmark bygekom het. En sedert Hugo Theart betrokke geraak het as kreatiewe hoof het ons ook inhuis die vermoë teruggeneem om produksies van skaal en omvang self te vervaardig en elders in Suid-Afrika aan te bied.”

Snyman sê sy sien uit na die toekoms.

“Ek verruil Oudtshoorn vir Paradysstrand, naby Jeffreysbaai. Ek verlaat Kunste Onbeperk omdat ek ’n aanbod aanvaar het om die belange van die Shanti Nilaya Trust, wat een van Klein Karoo Klassique se borge is, te bestuur. Ek is baie opgewonde daaroor en sien geweldig uit na die nuwe uitdagings.”
Sonn het Snyman vir haar toegewyde diens oor die afgelope bykans 25 jaar bedank en haar sukses met haar nuwe loopbaanplanne toegewens.

“Kunste Onbeperk, die KKNK en Klein Karoo Klassique is Rhodé groot dank verskuldig,” het hy gesê.

Sonn het ook bekend gemaak dat die direksie nou met ’n proses begin om ’n opvolger vir Snyman te soek.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2018. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?