Opgewonde oor dorp én KKNK

Die Hoorn gesels met Hugo Theart, waarnemende uitvoerende KKNK-hoof 

Hugo Theart, wat tans waarneem as uitvoe­rende hoof van Kunste Onbeperk.  Foto verskaf

Hugo Theart, wat tans waarneem as uitvoe­rende hoof van Kunste Onbeperk. Foto verskaf

Deur Liesel le Roux
HUGO THEART, waarnemende uitvoerende hoof van Kunste Onbeperk, hou onverbloemd baie van Oudtshoorn en sy mense.
“Ek ontmoet sulke wonderlike mense hier,” is van sy eerste woorde toe ons gaan sit om te gesels en hy geesdriftig oor Oudtshoorn begin praat.

Theart sit tans in twee stoele – behalwe dat hy na die bedanking van Rhodé Snyman einde 2017 waarneem as uitvoerende hoof, is hy ook steeds namens Kunste Onbeperk (die organisasie wat die KKNK aanbied) die vervaardiger van verskeie teaterproduksies wat onder meer by vanjaar se Woord­fees en KKNK te sien sal wees.

“Ek is dankbaar vir die enorme leerproses om as uitvoerende hoof waar te neem en om op Oudts­hoorn te woon en te werk, en ook vir die onge­looflike span mense met wie ek saamwerk.”

Oudtshoorn die enigste bestemming van die KKNK
Theart is ook onverbloemd positief en opgewonde oor die KKNK wat hy sedert 1996 nog nooit misgeloop het nie.
Op ’n vraag oor vrese van inwoners en gerugte wat al twee dekades op die dorp loop “dat die fees eendag gaan skuif”, skud hy sy kop.

“Oudtshoorn is ’n nasionale kunstefees, maar ook ’n bestemmingsfees – dit is die sjarme van die fees. Mense reis na die KKNK om op Oudtshoorn te kom en hier die kunste in die Klein Karoo te kom waardeer; om weg te kom uit die stad na Oudtshoorn met sy geskiedenis, sy geboue, sy mense, sy natuurskoon en die kos van die streek. Mense reis vir die KKNK na Oudtshoorn as toe­rismedorp met al sy bates.”

Hy is self ’n voorbeeld van iemand wat glo die KKNK is so belangrik én lekker dat mens dit nie mag misloop nie. Hy vertel dat hy van die tweede KKNK nog elke jaar Oudtshoorn toe gekom het vir die fees – as akteur, regisseur, skrywer en vervaardiger. Sedert 2015 was hy die kreatiewe hoof van Kunste Onbeperk, ’n pos wat hy beklee het todat hy oorgeneem het as waarnemende hoof.

“Mense moet besef die KKNK is van die belang­rikste datums op die jaarlikse nasionale kuns­tekalender en ook van die streek waarbinne Oudtshoorn geleë is.

“Oudtshoorn bedien deur die fees ’n spesifieke streek en wil die beste internasionale en nasionale produksies na die streek bring en so ’n verskil hier maak.

“Wat my opgewonde maak, is wat mens kan verrig deur die kunste en hoe ’n gemeenskap soos Oudtshoorn en ons land daardeur bereik kan word.

“Feeste is ’n plek van vermaak, maar ook ’n plek van samesyn waar gesinne en vriende kan saamkuier, en ook die plek waar op intellektuele vlak debatte gevoer word in die vele gesprekke wat by die fees aangebied word. Dit is die plek waar filosowe, digters, akteurs en feesgangers versamel, die plek waar van die grootste en belangrikste stemme in die land jaarliks bymekaarkom om hier in die Karoo te debatteer oor landskwessies en gesprek te voer – fantasies!”

Die kunste kan helend wees
Theart glo dat die kunste net soos sport helend kan wees.
“Die kunste het ’n enorme rol om nasiebou in Suid-Afrika te bevorder. Waar Suid-Afrika nou is, is die kunste se rol nog belangriker.

“Die hele land het verander sedert 24 jaar gelede, ook binne die kunstebedryf. Vandag moet feeste anders benader word as 24 jaar gelede.

Deel daarvan is volgens Theart “opwindende planne vir die toekoms en die 25ste fees van 2019”.

“Ons het ’n groot verantwoordelikheid. En ons is hier om ’n diens te lewer.

“Ek praat graag met mense oor nuwe idees. Dit is nou al tyd dat ons beplan vir die volgende drie tot vyf jaar. Daarvoor het ons almal se ondersteu­ning nodig – die dorp, streek en die land wat deur die fees bedien word.”

Impak deur die jaar en oor die land
Theart sê die feesdireksie glo dit is belangrik dat die KKNK dwarsdeur die jaar ’n impak moet hê op Oudtshoorn én nasionaal.
Hieronder tel ’n projek vanjaar wat vyf permanente kuns-installasies op Oudtshoorn behels en waarby plaaslike mense betrokke sal wees.

Nog ’n voorbeeld is Kunste Onbeperk se Teksmark wat jaarliks in die Kaap aangebied word waar skrywers tekste kan voorlê vir oorweging deur feeste, teaters en befondsers.

“Teksmark voed die KKNK en die bedryf dwars­oor Suid-Afrika met produksies wat uit die projek ontwikkel word en van Oudtshoorn na onder meer die Baxter Teater, die Woordfees, Aardklop, Inniebos, die Suidoosterfees en die Vrystaat Kunstefees gaan.”

Die produksie Swerfgoed wat by vanjaar se fees debuteer met Anna-Mart van der Merwe, Nicole Holm, Richard September en Andrew Laubscher in die rolverdeling is ’n produk van die Teksmark en spreek die aktuele kwessie van waterskaarste aan.

“Die KKNK en Kunste Onbeperk het ’n belang­rike rol om te speel in die gesondheid van die kuns­tebedryf in Suid-Afrika. Ons moet altyd bly vra: Wat kan die fees vanuit Oudtshoorn doen? Dit is boonop goeie bemarking vir Oudtshoorn.”

• Kunste Onbeperk is ’n Artikel 21-maatskappy sonder winsoogmerk en is die aanbieder van onder meer die KKNK, Klein Karoo Klassique en die Teksmark.

Log in with your credentials

Forgot your details?