Moenie dié musiek by die KKNK misloop

David Kramer   •   Chris Chameleon en CH2   •   Laurika Rauch en Loki Rothman   •   Ricus Nel en Refentse

David Kramer

David Kramer

FEESGANGERS by vanjaar se KKNK kan uitsien na die debuut van 11 musiekproduksies deur ou bekendes en nuwe kunstenaars.
Musiekhoogtepunte sluit in:

• Lepeltjie vol snare met die ikoniese Suid-Afrikaanse kitaarspeler, Hannes Coetzee en sy eiesoortige manier van kitaarspel.
Coetzee speel kitaar met ’n teelepel in sy mond en sy unieke spel het vir hom nasionale en internasionale bekendheid verwerf. Frazer Barry, Earl Witbooi, Loit Stols, Deniel Barry en Stefne van Dyk deel die verhoog met hom.

• In CH3 met Chris Chameleon en CH2 span dié drie musikante saam vir ’n vertoning uit die boonste rakke en van internasionale gehalte. Chame­leon se briljante stemgebruik en vermaaklike ver­- ­hoogpersoonlikheid saam met die kitaarvuurwerke van CH2 sorg vir ’n onvergeetlike musikale reis.

• Amanda Strydom se nuutste vertoning – Stadig oor die Klippers – handel oor die liefde, lewe en die dood. Strydom neem die gehoor met haar kenmerkende styl deur ’n wye spektrum van emosies.

• Anna Davel, Gloria Bosman en John Fresk span kragte saam in Ella Fitzgerald – A century in song, waarin hulle hulde aan dié musikant se tydlose musiek bring, met ’n diverse repertorium.

• In die kabaret Besselsen met Jacques du Plessis en JC Visser, het Gertjie Besselsen, lid van Mr Cat & the Jackal, van Hennie Aucamp en ID du Plessis se bekendste tekste getoonset. Met woord en musiek word hierdie produksie ’n interessante, kleinskaalse Afrikaanse kabaret op sy beste.

• David Kramer se Platteland met David Kramer, Carlo Daniels, Anray Amansure, Nick Tur­ner, Sean de Vries, Dylan Roman en Kerryn Torrance is ’n samestelling van Kramer se musiek, gesing deur die kunstenaars en ’n orkes, vir veel meer as net ’n konsert met liedjies. Dit is ’n belewenis.

• Goue treffers vani Kaap! is ’n musiekblyspel met Karin Kortje, Robin Pieters en Elwira Standili, met gunsteling treffers uit die hartjie van die Kaap. Dié drie sangers deel in ’n intieme ruimte hul liefde vir musiek deur sterk ballades met ’n tikkie nostalgie.

• Lize Beekman en Jaconell Mouton deel in Stilte na die storm ’n intieme en rustige musiekervaring met musiek en lirieke uit Beekman se pen. Haar sangstem en kitaarbegeleiding, saam met Mouton se aanvoeling vir haar musiek op klavier, sorg vir sielvolle vertolkings.

• Maanlig met Leslie Javan, Maciej Lacny, Ronan Skillen en Francois Afrika bied meestal nuwe werke uit Javan se pen met die begeleiding van akoestiese kitaar, tjello en perkussie.

• Feesgangers het met Ricus en Refentse Akoesties, ’n geleentheid om dié twee sangers soos nog nooit tevore nie te sien: intiem en akoesties. Hulle deel ou gunstelinge wat afgestof word en hul nuutste treffers.
Ricus Nel sê hy sien baie uit na sy KKNK-terugkeer. “Dié produksie is rou en gehore gaan die eerlikheid in ons stemme en instrumente voel, sien en waardeer.”

• Coenie de Villiers en Mauritz Lotz deel die verhoog in Shhhhhhhhhh, waar De Villiers se nuut­ste versameling liedere vir die eerste keer gespeel word. Hy wys in die vertoning waarom hy as een van Suid-Afrika se voorste liedjieskrywers beskou word met Lotz wat sy eie towerkrag op kitaar byvoeg.

Ander musiekhoogtepunte sluit in
• Laurika Rauch met Loki Rothman in Blou;
• Afrika my verlange / Afrique mon désir waarin Kramer as regisseur kragte saamspan met die veelbekroonde sanger en komponis Laurinda Hofmeyr en baskitaarspeler Schalk Joubert. Saam met ’n wêreldklas-ensemble van sangers uit Wes-Afrika, ontdek hulle ’n skatkis van Afrika-poësie.
• Karin Hougaard in Grepe.
• Die Fiësta-benoemde klassieke RSG “Dis Opera” Konsert.
• Feesgangers kan ook uitsien na verskeie musiekoptredes in die gewilde Die Windpomp Restaurantteater, waar daar tussen die gewoel van elke feesdag ’n oase van sielsverkwikkende musiek in ’n intieme omgewing aangebied word. Dié venue is vanjaar in die Banketsaal. Etes en drinkgoed word voor die vertonings hier bedien.
• Kaartjies vir vertonings is te koop by Computicket, Shoprite / Checkers en House & Home.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2018. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?