KKNK wil versoen

Crispin Sonn, direksievoorsitter van Kunste Onbeperk,  aan die woord tydens Maandagaand se programbekendstelling.   Foto:   Schalk le Roux

Crispin Sonn, direksievoorsitter van Kunste Onbeperk, aan die woord tydens Maandagaand se programbekendstelling. Foto:  Schalk le Roux

Deur Liesel le Roux
DIE KKNK wil ’n versoenende rol in die hui­dige Suid-Afrika speel en die direksie het ’n doelbewuste keuse ge­maak om dit te doen, sê Crispin Sonn, direksie­voorsitter van Kunste Onbeperk wat die KKNK aanbied.

Sonn het Maandag­aand op Oudtshoorn by die bekendstelling van die program van vanjaar se KKNK gesê die kuns­te kan net soos sport ’n verdelende of ver­soenende rol in die land speel.

Volgens Sonn het die direksie die voorafgaan­de twee dae tydens ’n strategiese werksessie op Oudtshoorn besin oor die plek van ’n Afri­kaanse fees soos die KKNK in ’n nuwe Suid-Afrika, die verwagtinge van belanghebbendes en borge, en verwys na die woorde van een van die direksielede, Ismail Mahomed: “For South Africa the hard work still lies ahead.”

“Daar is in Suid-Afrika groot veranderinge op die horison,” het Sonn gesê. “Ons moet in hierdie klimaat uitwerk wat ons funksie in dié verband is en terseldertyd seker maak dat daar ook vermaak aangebied word, en deurentyd streef na uitnemendheid en kwaliteit.

“Die werk van die feeste en die kunste is nog lank nie verby nie.”

Volgens hom wil die KKNK ook plaaslik iets beteken en nie net ’n ekonomiese inspuiting vir die dorp wees nie, maar ook iets agterlaat.

“Ons wil werk in die gemeenskap doen. Ons wil sorgvuldig nadink oor wat ons kan doen. Ek dink ons kan ’n groot rol in die Oudtshoorn-gemeenskap vervul en is verbind daartoe.”

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2018. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?