KKNK 2017 bied musiek vir elke smaak

Katlego Maboe, Emo Adams en Bobby van Jaarsveld opgetof vir Karoo Swing.

Katlego Maboe, Emo Adams en Bobby van Jaarsveld is by die KKNK te sien in Karoo Swing.

“MUSIEKLIEFHEBBERS by vanjaar se KKNK kan ’n wye spektrum van musiek beleef – van kontemporêr en klassiek, tot kabaret en selfs ’n Afrikaanse musiekblyspel,” sê Rhodé Snyman, uitvoerende hoof van dié fees, wat van 8 tot 15 April op Oudtshoorn aangebied word.

In teaters kan feesgangers uitsien na die eerste Afrikaanse hip-hop- musiekblyspel Amper Famous, met die jong hip-hop-kunstenaar V.I.T.O., onder regie van David Kramer. Amper Famous vertel die storie van ’n jong man van ’n klein dorpie, wat groot drome droom.

Vir aanhangers van Karen Zoid én die Gereformeerde Blues Band, is hulle vertoning ’n móét sien. Hulle trek ’n kontemporêre baadjie vir Johannes Kerkorrel en die Gereformeerde Blues Band se iko­niese protesalbum, Eet Kreef, aan.

Afrikaanse musiek word deur Emo Adams, Bobby van Jaarsveld en Katlego Maboe opgetof vir ’n nostalgiese reis vir almal wat wil jol.

Freshlyground se Zolani Mahola vereer die rol van vrouwees in die wêreld van rock & roll in Rok en rol. Ikone soos Janis Joplin, Nina Simone, Tina Turner, Cyndi Lauper, Miriam Makeba, Brenda Fassie, Claire Johnston en Lesley Rae Dowling word gehuldig.

Coenie de Villiers het ’n splinternuwe musieksuite gekomponeer, wat vir die eerste keer in Karoo Suite gehoor gaan word. Skrywer Deon Meyer is saam met De Villiers op die verhoog en is ook verantwoordelik vir die teks. Projeksies van Meyer se fotografie word die agtergrondtafereel vir dié multimedia-viering van woord, beeld en musiek.

Vir kabaret-liefhebbers bied die fees- program verskeie keuses. Angels on Horseback: Skop skiet and Blonder, Kaapstad se gunsteling-countrykabaret, gee aan country ’n heel nuwe baadjie.

Die Vlammende Fez is ’n literêre ka­ba­ret en kyk na skrywer ID du Plessis se skryfwerk oor die Kaapse Ma­leierkultuur, onder regie van Basil Appolis en met oa Chris van Niekerk, Loukmaan Adams en ’n Maleier-sanggroep.

Jemma Kahn bring die internasionaal-suksesvolle We didn’t come to hell for the Croissants na die fees. Dit is ’n rou vertolking van die antieke Japannese storie­-ver­telkultuur, kamishibai, in ’n Suid- Afrikaanse konteks.

Elisha Zeeman rebelleer in Mond verby teen “the man” wat alewig in ons nekke blaas. In hierdie satiriese sketskomedie deel ses uitspattige karakters hul erva­rings oor die korporatiewe wêreld in ’n vlymskerp solovertoning.

Vir klavier-musiekliefhebbers bring Petronel Malan ’n program wat spesiaal vir die KKNK saamgestel is. Kom beleef hierdie verrykende musikale reis met musiek van haar eerste vyf CD’s en ’n voorsmaak van haar volgende album.

Ander musiekproduksies wat debuteer, sluit in: Amanda Strydom – So onner deur die maan, Andriëtte Norman – Goeie ge­nade dis ’n dekade, Danie Niehaus en Pietman Geldenhuys – Die ding van ’n liedjie, Jak de Priester – 15 jaar met kla­vier en kitaar, Loki Rothman en Albert Frost – Die akoestiese kitaar en ook optredes deur Steffie le Roux en Les Javan.

“Opelugmusiekkonserte keer vir die eerste keer sedert 2012 terug na die Rivierbuurt en elke aandprogram bring verskeie groot name saam op die Huisgenoot-verhoog”, vertel Snyman.

Die volledige aandprogram sluit in: Juanita du Plessis, Bok van Blerk, Refentse, Jo Black, The Black Ties en Elandré Schwartz (8 April); Theuns Jordaan en Dr. Victor & The Rasta Rebels (9 April); The Rockets, Nicholis Louw, Elizma Theron en Brendan Peyper (10 April); Emo Adams, Kurt Darren, Karin Kortjé en Robin Peters (11 April); Bobby van Jaarsveld en Rhema Varrie (12 April); Rymklets van Oos tot Wes met Early B, Die Salwing (HemelBesem, Yoma en Linkris), Jerome Rex, RenoKarooKing, Die Hooflig, Japsnoet en DJ Hearing Aid (13 April); kykNET Jukebox met Pieter Koen, BlackByrd, Refentse, Jay, Leah en Willem Botha (14 April) en Kleurvol met ’n keur van vars nuwe talent (15 April).

Toegang na dié konserte is ingesluit by Rivierbuurt-kaartjies.

Deur die dag bied die Rivierbuurt musiek op twee verhoë – die Coca-Cola-verhoog en die Kango Kombuis-verhoog – met alles van bands tot agtergrondmusiek. Om 16:00 skuif die musiek na die Huisgenoot-verhoog, waar gunstelinge én opkomende sterre ’n draai maak, voordat die aandprogram afskop. Golden circle-kaartjies vir die Huisgenoot-verhoog is beskikbaar vir 8, 9, 14 en 15 April. Golden circle-kaartjies bied nie toegang tot die Rivierbuurt nie.

Die volledige program is beskikbaar by www.kknk.co.za. Kaartjies kan by Computicket, Shoprite/Checkers en House & Home gekoop word. Verblyfbesprekings kan aanlyn gedoen word, of kontak 044 203 8600.

Die feesdatums val vanjaar binne die nasionale skoolvakansie en eindig oor Paasnaweek.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2018. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?