5de keer op KKNK-verhoog

Ad Astra-koor maak weer so

Die Ad Astra-koor van die Hoërskool Oudtshoorn tydens hul optrede by die die 2016-KKNK saam met van die land se voorste kunstenaars.             Foto: Hans van der Veen

Die Ad Astra-koor van die Hoërskool Oudtshoorn tydens hul optrede by die die 2016-KKNK saam met van die land se voorste kunstenaars. Foto: Hans van der Veen

Deur Liesel le Roux
DIT sal vanjaar die vyfde keer wees dat die Hoërskool Oudtshoorn se uitsonderlike skoolkoor, die Ad Astra-koor, by die KKNK optree. Die koor is Sondagaand (1 April) om 19:30 te sien in die produksie Boontoe: Engelstemme op die Huisgenoot-verhoog op die Rec.

Die koor deel vanjaar die verhoog met die sangers Jo Black, Robbie Wessels, André Terblanche, Corlea Botha, Thembeka, Kyle Seconna en ’n orkes in ’n vertoning wat wêreldklasklank en -beligting beloof.

Boontoe: Engelstemme bou voort op ’n vorige KKNK-produksie met dieselfde naam wat in 2016 op die planke was en toe vir ’n Kanna benoem is.

Sy is baie trots op die hardwer­kendheid van die koorlede, sê Elmine Bester, die koorafrigter. Elmine het die Ad Astrakoor in 1988 op die been gebring en sedert daardie jaar word die koor deur haar en haar man, Danie Bester, afgerig.

Die Besters is ’n gedugte span. Hulle het in 1983 mekaar as B Mus-studente in hul derde jaar aan die Universiteit Stellenbosch ontmoet en is die einde van 1984 getroud. Hulle bande met die Hoërskool Oudtshoorn het begin toe hulle albei as musiekonderwysers aangestel is. Hoewel Danie intussen die onderwys verlaat het en in die boubedryf werk, is Elmine steeds die skool se musiekonderwyser en droom baie laerskool­kinders om eendag in “juffrou Elmine se koor” te kan sing.

Die Ad Astra-koor wat jaar na jaar A++-simbole behaal by die George Eisteddfod in al die afdelings waarin hulle deelneem, bestaan uit 76 lede – 27 soprane, 21 alte, 15 tenore en 13 basse.

Sy vertel dat die koorlede almal ook aan verskeie sportsoorte deelneem en akademies hard werk, maar te midde van dit so ver as van Dysselsdorp en Schoemanshoek reis om twee maal per week saans te kom koor oefen.

“Vir die KKNK moet hulle te midde van ’n toetsreeks voortgaan om gereeld te oefen, maar die hele erva­ring beteken baie vir hulle. Dit bied hulle die geleentheid om te ervaar hoe professionele kunstenaars werk en die erns waarmee hulle ’n optrede benader. So ’n optrede is terselfdertyd intimiderend en opwindend vir die kinders. Dit is ’n groot ervaring vir die koor.”

Daar was baie hoogtepunte oor die afgelope meer as 30 jaar vir die koor, maar Elmine onthou spesifiek hul deelname aan die Tygerberg Internasionale Eisteddfod, ’n Kersfondskonsert van Die Burger in die Barnyard in Bellville en ’n middagetekonsert wat die George Sakekamer in die Moederkerk op die dorp gereël het as van die spesiaalste geleenthede.

Die koor gee in ’n groot mate terug aan die hele Oudtshoorn-gemeenskap en tree elke jaar tussen Mei en Oktober in soveel moontlik kerke op. Hul repertoire bestaan oorwegend uit ligte klassieke werke met een of twee ligter liedere vir afwisseling.

En, ja, oor die jare het verskeie koortradisies uit dié besonderse koor ontstaan. Een daarvan is dat die ouer koorlede elke jaar in Januarie die nuwelinge in die koor met hul volle repertorium van die vorige jaar verwelkom. Wat ’n verwelkoming vir ’n graad agt-leerder!

• Die regie en teks vir Boontoe – Engelstemme is gedoen deur Hennie van Greunen. Die dagkaartjie vir die Kuier­buurt Sondag bied ook toegang tot dié konsert. Neem ’n eie stoel of kombers om op te sit en warm klere vir die buitelug saam.

Log in with your credentials

Forgot your details?