Tronkstraf vir vyf pale

Deur Garnett Wicomb
TWEE mans van Dysselsdorp wat vyf houtpale van ’n opkomende boer gesteel het, is Vrydag in die Oudtshoorn Streekhof tronkstraf opgelê.

Bernard Damons (22) en David Jacobs (18) is deur landdros Lorraine Samuels aan diefstal skuldig bevind nadat hulle so gepleit het.

Hulle het in pleitverduidelikings erken dat hulle op 14 September vanjaar by die Olienhoutkloof Boerdery buite Dysselsdorp die pale van Plaatjie de Villiers ge­steel het omdat hulle ’n hok wou bou.

Damons en Jacobs se regshulppro­kureur, Wenzel Botha, het die hof gevra om nie die belange van die gemeenskap met vonnisoplegging oor te beklemtoon nie. Hy het toegegee dat dit ’n ernstige misdaad is wat veelvuldig voorkom. Hy het die hof ook versoek om onderskeid tussen die twee te tref omdat Jacobs minder vorige veroordelings het.

Die staatsaanklaer, Vandana Premchand, het vir direkte gevangenisstraf gepleit omdat Damons en Jacobs nie eerste oortreders is nie.

Landdros Lorraine Samuels het met vonnisoplegging gesê sy neem in ag dat die twee skuldig gepleit het en nie die hof se tyd gemors het nie.

“Oneerlikehid is egter ’n groot kopseer en die hof kan hom nie daarteen blind staar nie.

“Gemeenskappe gaan gebuk onder armoede en werkloosheid. Die staat help mense soos die kleinboere van Olienhoutkloof wat voorheen benadeel is en nou steel julle hul goed,” het die landdros aan Damons en Jacobs gesê,

Volgens haar het Damons terwyl hy op parool was, weer ’n misdaad gepleeg en ook nie kanse wat hy gekry het, aangegryp het nie.

Damons, wat vyf vorige veroordelings op sy rekord het, is 24 maande tronkstraf opgelê waarvan die helfte voorwaardelik vir vyf jaar opgeskort is.

Jacobs, met een vorige veroordeling, is 12 maande gevangenisstraf opgelê wat in geheel vir vyf jaar opgeskort is.

Hulle is albei al by vorige geleenthede onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2018. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?