Sakeman Desember voor

Deur Garnett Wicomb
DIE verhoor van ’n sakeman van Oudtshoorn wat tereg staan op ver­skeie aanklagte van verkragting, is Maandag weer ’n keer in die Oudts­hoorn Streekhof uitgestel.

Die keer omdat advokaat Pieter Botha, wat in opdrag van Coetzee en Van der Bergh Ingelyf vir hom sal verskyn, ook die regsverteenwoordiger is van Henri van Breda in sy driedubbele moordverhoor tans in die hooggeregshof in Kaapstad.

Die 53-jarige beskuldigde wat nog nie gevra is om te pleit nie, is in September verlede jaar borgtog van R10 000 met streng borgvoorwaardes toegestaan en dit is Maandag deur streeklanddros Daniel Boks verleng.

Die sakeman is tans werksaam in China en het spesiaal vir die saak na Suid-Afrika teruggekeer, alhoewel hy geweet het dat dit weer uitgestel gaan word.

Van sy aanvanklike borgvoorwaar­des is later op versoek van sy pro­kureur, Christo van der Bergh, deur landdros Lorraine Samuels verslap.

’n 32-jarige vrou beweer dat sy tussen November 2014 en April 2016 vier keer deur die man in sy huis op Oudtshoorn verkrag is. Die saak is in April vanjaar vir pleit en verhoor tot 21 Augustus uitgestel en Maandag vir twee dae se verhoor, 5 en 6 Desember 2017, op die hofrol geplaas.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2018. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?