Opgeskorte vonnis ná man winkel met klippe beskadig

Deur Garnett Wicomb
’N JONG man van Dysselsdorp wat die traliehek van ’n buitelander se winkel met klippe bestook en be­ska­dig het omdat hy kwaad was vir die eienaar, is in die Oudtshoorn Streek­hof ’n opgeskorte vonnis opgelê vir opsetlike saakbeskadiging.

Brandon Burts (19) het in sy pleitverduideliking erken dat hy die betrokke dag ’n sigaret by die winkel van Rafick Abdul gekoop het en daarna gevra het dat dit aangesteek moet word.

Abdul het geweier en volgens Burts hom glo later, sonder rede, met ’n sambok buite die winkel geslaan.
Hy het kwaad geword en die traliehek met klippe beskadig.

Landdros Johan Steynberg het die skade van R550 betwyfel, maar gesê Burts kon net na die nabygeleë polisiestasie stap en ’n klagte teen die winkeleienaar gaan lê het.

Los sigarette word volgens die landdros nie saam met ’n vuurhoutjie verkoop nie.

Hy het in ag geneem dat Burts al tien keer van Dysselsdorp na die hof moes kom vir sy hofverskynings, skuldig gepleit het en ’n eerste oortreder is.

Hy is gevonnis tot ’n boete van R500 of drie maande gevangenisstraf wat in geheel vir drie jaar opgeskort is.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2018. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?