Nou al drie aanklagte teen ‘Dr Eve’

Deur Garnett Wicomb
DAAR word nou reeds drie klagtes van bedrog ondersoek teen ’n Ugandese kruiedokter, Justine Nambuya (27).

Nambuya bedryf as “Dr Eve”, ’n kruiedoktersbesigheid op Oudtshoorn.

Sy het verlede Vrydag ’n tweede keer in die Oudtshoorn Landdroshof vir borgtog aansoek gedoen nadat sy ’n tweede keer in hegtenis geneem is.

Nambuya, wat aanvanklik aangekla is nadat sy na bewering ’n vrou van Oudtshoorn uit R40 000 bedrieg het deur te beloof dat sy die R450 000 sal verdubbel, was op borgtog van R3 000 uit toe ’n tweede persoon ’n klag teen haar ingedien het – dié keer dat sy na bewering beloof het om ’n bedrag van R27 000 in R1 miljoen te verander.

Sy is weer in hegtenis geneem.
Die ondersoekbeampte, ao Chris Olivier, het tydens die borgaansoek Vrydag getuig dat ’n derde klagte intussen ook by die twee ander klagtes gevoeg is.

Landdros Roelf Konstabel het borgtog met dieselfde voorwaardes as die eerste keer aan Nambuya, die ma van ’n baba wat tydens haar inhegtenisname saam met haar in die tronk was, toegestaan.

Sy moet twee keer per week by die Oudtshoorn Polisiekantoor aanmeld, nie kontak maak met die klaer nie, nie van adres verander nie, haar weerhou van enige misdaad, en nie die dorp verlaat sonder die wete van die ondersoekbeampte nie.

Die hof het bevind dat sy nie ’n vlugrisiko is nie en dat sy nie nou gestraf kan word vir wat moontlik in die toekoms deur die departement van binnelandse sake ten opigte van haar verblyfpermit in Suid-Afrika besluit mag word nie.

Haar verblyfpermit is tot November geldig.

Sy kan ook voortgaan om haar praktyk te bedryf.

Die saak is vir verdere ondersoek tot 16 Augustus uitgestel.
Vaughn Shone van Coetzee en Van der Bergh Ingelyf het namens Nambuya verskyn.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2017. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?