Moordsaak teen Stander wag

Deur Garnett Wicomb
DIE saak teen ’n man (42) van Oudts­hoorn wat reeds langer as twee jaar in aanhouding is op ’n moordklag, is Dinsdag in die Oudtshoorn Streekhof vir slotargumente van die staat en die verdediging tot einde Augustus uitgestel.

Melvin Stander word daarvan aan­gekla dat hy op Ou Kersdag 2014 vir Franky Oliphant (26) van Riemvasmaak doodgeskiet het. Hy voer egter aan dat dit iemand anders was wat die sneller getrek het omdat hy nie die aand op Oudtshoorn was nie.

Stander voer aan dat hy die dag by sy suster op Matjiesrivier gaan kuier het. Hy het eers die volgende dag te­ruggekom.

Die laaste getuie wat deur die ver­dediging geroep is, David Swarts, wat tans in aanhouding is op ’n ander saak, het Dinsdag getuig dat dit nie Stander was wat Oliphant doodge­skiet het nie maar ’n “langerige man met die naam Marius”. Volgens Swarts het hy van die toneel weggehardloop omdat hy gevrees het dat hy ook geskiet sal word.

Hy het vier skote hoor afgaan.

Swarts het getuig dat hy besluit het om te kom getuig omdat ’n onskul­dige man in die tronk sit. Hy het met kruisondervraging klei getrap en kon nie aan die staatsaanklaer, adv Mi­chelle Weyers, verduidelik waarom hy nie ’n verklaring aan die polisie gegee het nie. Weyers het dit aan Swarts gestel dat hy besig is om leuens in die hof te vertel.

Nadat die verdediging sy saak ge­sluit het, is die saak vir slotargumente tot 31 Augustus uitgestel.
Die saak dien voor streeklanddros Daniel Boks en adv Steven Lourens verskyn namens die beskuldigde.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2018. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?