Man vry nadat hy met knopkierie slaan

Deur Garnett Wicomb
’N Man (26) van Calitzdorp wat ’n vriend met ’n knopkierie oor die kop geslaan het, is in die Oudts­hoorn Streekhof vrygespreek omdat staatsgetuies verskillende weergawes van die voorval gegee het.

Christo Pockpas van die Valentynsdorp-plak­kers­kamp in Bergsig het tereg gestaan op ’n aanklag van poging tot moord nadat hy op 30 Sep­tember verlede jaar vir Lodewyk Neville Jaftha twee keer met ’n knopkierie oor sy kop en een keer teen sy mond geslaan het.

Jaftha het sy bewussyn ’n paar dae later in die George Hospitaal herwin.
Pockpas het getuig dat Jaftha hom met ’n mes wou steek en hy uit noodweer opgetree het.

Sy regshulpprokureur, Brian Carelse, het die hof vir sy vryspraak gevra omdat die staat nie sy saak bo redelike twyfel bewys het nie.

Volgens Jaftha het Pockpas hom sonder rede aangeval.

Die staatsaanklaer, Hyron Goulding, het die hof versoek om Pockpas skuldig te bevind omdat hy nie na die eerste hou ophou slaan het nie en die opset gehad om moord te pleeg.

“Die klaer het volgens ’n mediese verslag le­wensgevaarlike beserings opgedoen en die beskul­digde se weergawe behoort verwerp te word,” het Goulding betoog.

Streeklanddros LA Wilkens het egter bevind dat die staat nie sy saak bo redelike twyfel bewys het nie.
Hy het daarop Pockpas vrygespreek.

0 Comments

Leave a reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

©2018. Digitale projekbestuur deur Lumico.

Log in with your credentials

Forgot your details?